Ter ere van Taaldag 2021 het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn opwindende gratis webinaar aangebied op Saterdag, 14 Augustus 2021, waartydens verskeie kenners Afrikaans se diverse wortels en hedendaagse gedaantes belig het.
Die gesprek was onder leiding van mediapersoonlikheid Heindrich Wyngaard en Michael Jonas, direkteur van die ATM, dr Hans du Plessis, prof Elvis Saal, dr Annelise de Vries en me Ria Olivier het hul interessante, deurdagte insette gelewer. Die virtuele gaste het ook vrae en menings gelug oor die gesprekstema ‘Die wortels van Afrikaans, toe en nou?’
Hoewel Afrikaans nie ʼn spesifiek geboortedag of -plek het nie, word die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 (in wat nou die Taalmuseum in die Paarl is) as Taaldag gevier omdat hierdie gebeurtenis uiteindelik tot die erkenning van Afrikaans as ʼn amptelike taal gelei het.