Musiek en viering van interaksie tussen Afrikaans en ander Afrikatale op die spyskaart

Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrika(ans), gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se viering van Afrikadag op Woensdag, 25 Mei 2022, fokus op die wedersydse invloede tussen Afrikatale en Afrikaans. In die lig van vorige suksesvolle vierings, bied die monument vanjaar gratis toegang aan almal en musiek om so veel moontlik besoekers te lok. Aangesien vanjaar se amptelike Afrika Unie-tema vir Afrikamaand ‘Die jaar van voeding’ is, sal die ATM tipiese kosresepte van al die Afrikalande op sy sosiale media-platforms plaas.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ʼn Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse) sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons beskou die monument nie net as ʼn baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”

Om 12uur op die dag sal die Afrika Unie se amptelike lied gespeel en die amptelike vlag gehys word om verrigtinge mee af te skop. Daarna vind ʼn gratis begeleide toer van die monument plaas; dit sal fokus op die taal se Afrika-wortels en Afrikaans se invloed op ander Afrikatale. Tussen 1 en 2nm sal die Imbhewu Marimba-groep hul betowerende Afrikaliedere opvoer.

Jonas stel voor dat gesinne en vriende ʼn heerlike daguitstappie daarvan maak. “Bring ʼn piekniek (of bestel een vooraf by die ATM Koffiehuis op 082 216 2510) en laat die kinders speel in die speelparke of van die buitelug-speletjies gebruik maak. Boonop is die uitsig en natuurlike omgewing absoluut pragtig in die herfs.”

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.