1.    Inleiding

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl vier die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans. Almal wat Afrikaans kán of wíl praat of daarin belangstel, behoort hierdie unieke museum en monument te besoek om meer te leer oor dié derde grootste taal in Suid-Afrika. Afrikaans word deur meer as ses miljoen sprekers as moedertaal gepraat en deur ten minste netsoveel mense as tweede of derde taal.

2.    Agtergrond

Die gedagte om ʼn monument vir die Afrikaanse taal op te rig, is op 14 Augustus 1942 geopper tydens die onthulling van ʼn gedenkplaat by die begraafplaas op die plaas Kleinbosch in Dal Josafat naby die Paarl, ter ere van ds SJ du Toit, DF du Toit en PJ Malherbe, drie stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat daar begrawe lê. Dit het gelei tot ʼn openbare vergadering in die Paarl op 26 September 1942, waar die Afrikaanse Taalmonument¬komitee onder groot belangstelling in die lewe geroep is. Die voorsitter was ds PJ Loots en die ondervoorsitter die bekende mnr SPH (oom Seppie) de Villiers. Die res van die komitee het bestaan uit drs AL de Jager, W de Vos Malan, JJ Muller, GG Cillie, mnre GC Burger (sekretaris), HA Rust, WA Joubert en WH Louw, en mej J Meyer.

Die doel van die komitee was om fondse in te samel vir die oprigting van ʼn “waardige taalmonument in die Paarl” en vir beurse aan “verdienstelike gevorderde studente wat hulle spesiaal op ʼn intensiewe studie van die Afrikaanse taal wil toelê”.

Daar is entoesiasties weggespring, en ʼn sogenaamde Oproep is opgestel om die saak onder die aandag van die hele Suid-Afrika te bring. Hierdie “Oproep” het wye mediadekking geniet. Die fondsinsame¬lings was egter nie so suksesvol soos gehoop is nie, en dit was meer as drie dekades later voordat die monument ʼn werklikheid sou word.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB) (sedert 1991 opgeneem in die ATKV) was vanaf 1963 intensief by die werksaamhede vir die oprigting van ʼn taalmonument betrokke en het mettertyd al die administratiewe en sekretariële pligte oorgeneem. Die organisasie het ook ʼn groot rol by fondsinsameling gespeel.

In 1964 het die komitee ʼn kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf en 12 argitekte genooi om deel te neem. Volgens die opdrag moes die monument van ver af sigbaar wees en onder meer die kulturele en staatkundige opbloei van Afrikaans uitbeeld. Die ontwerp van die argitek Jan van Wijk is as wenner aangewys.

Die terrein vir die monument, wes van Bretagne-rots op Paarlberg, is alreeds in 1963 gekies. In 1968 het die Paarlse munisipaliteit sowat 84 hektaar kosteloos aan die staat oorgedra.

Bouwerk het laat in 1972 begin en is aan die einde van 1974 voltooi. Die totale boukoste was sowat R700 000. Die monument is in 1975, honderd jaar na die stigting van die GRA, ingewy.

Wie en wat was die GRA?

  • Arnoldus Pannevis, Nederlandse taalkundige, het besef dat die taal wat die mense in Suid-Afrika gepraat het, reeds ‘n taal uit eie reg was en voorgestel dat dit Afrikaans genoem word.
  • Pannevis het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word sodat almal in Suid-Afrika dit kon verstaan.
  • Die Bybelgenootskap het aan du SJ Toit opdrag gegee om ondersoek in te stel daarna of daar werklik ‘n behoefte aan ‘n Afrikaanse Bybel bestaan.
  • Ds du Toit het ‘n groep vriende en familie op 14 Augustus 1875 vir ‘n vergadering byeengebring in die huis van sy neef Gideon Malherbe, om hierdie saak te bespreek.
  • Die vergadering is bygewoon deur CP Hoogenhout; Ds SJ du Toit; GJ Malherbe; DF du Toit (seun van DP); August Ahrbeck; PJ Malherbe; DF du Toit (seun van DF) en SG du Toit.
  • Daar is op die vergadering besluit om ‘n vereniging te stig wat hom kon beywer daarvoor dat Afrikaans erkenning as ‘n skryftaal geniet, en so het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom.
  • Een van die eerste dinge wat die GRA gedoen het, was om ‘n Afrikaanse koerant uit te gee. Die titel daarvan was Die Afrikaanse Patriot en dit het op die 15de Januarie 1876 vir die eerste keer verskyn.
  • Verskeie ander Afrikaanse publikasies is ook op die Genootskap se drukpers gedruk en versprei.
  • Die GRA het hulle vergaderings teen die begin van die 20ste eeu gestaak. Teen daardie tyd het die Afrikaanse taalbeweging genoeg momentum gehad om dit onomkeerbaar te maak.

 3.    Oproep

Uittreksels uit die oorspronklike “Oproep”:

 . . . ʼn beroep word hiermee gedoen op alle belangstellendes, Afrikaans- en Engelssprekend, blank en nie-blank, om hulle deel by te dra tot die grootse taak wat voorlê. Die hoop word gekoester dat op elke dorp in ons land ʼn komitee gevorm sal word vir die insameling van fondse en die aanwakkering van belangstelling in hierdie lofwaardige onderneming.

Deur die daarstelling van ʼn gedenkteken ter nagedagtenis van die eerste voorvegters vir die reg en voortbestaan van Afrikaans vervul ons volk ʼn heilige plig. Ons kan nie anders as om met dankbare erkentlikheid vervul te wees teenoor diegene wat die eerste stoot gegee het aan ʼn beweging wat gelei het tot die ontwikkeling van ʼn nuwe taal in Suid-Afrika – ons eie Afrikaanse Taal. Ongetwyfeld is dit die skitterendste prestasie in ons Suid-Afrikaanse Kultuurgeskiedenis. Maar dit is verder ook ons plig teenoor ons kinders en teenoor diegene wat na ons sal kom, wat die geskiedenis van die stryd vir die bestaansreg van Afrikaans nie meegeleef het nie, om aan hul op een of ander manier te toon hoe diep dankbaar ons is vir wat hierdie kultuurhelde vir ons gedoen het, hoe groot ons erkentlikheid is vir die onskatbare erfenis wat hul ons nagelaat het.

Dit is ons plig om daardie roemryke stukkie geskiedenis in die gemoed van ons kinders op die mees indrukwekkende wyse in te skerp. Weet ons kinders wat die prys is wat betaal is vir die groot erfenis? En as hul dit nie weet nie, hoe sal hulle ooit die groot skat behoorlik kan waardeer en liefhê?

Teneinde dan ons volksdankbaarheid vir wat tot stand gebring is by ons kinders te laat posvat, kan ons iets beter doen dan om hierdie gevoel te simboliseer in ʼn vorm wat waardiglik sal pas by die grootse taak wat verrig is en so ook by die volk wat die vrugte daarvan pluk en in die toekoms nog sal pluk?

Laat dit ons eer wees om deur hartlike samewerking ʼn plig te vervul wat ons kinders die reg het om van ons te verwag.

4.    Inspirasie vir die ontwerp

Een van Van Wijk se belangrikste ontwerpbeginsels was dat die nuwe monument by die natuurlike terrein moes inskakel en dit moes aanvul. Hy het vertel dat hy ter voorbereiding die Paarl besoek het en met ʼn ou brandbaan opgegaan het na die voorgestelde terrein: “Ek en my vrou het eers hier rondgeloop en toe gery na die pas daar oorkant; Franschhoek toe; na Klapmuts toe; en gekyk hoe die terrein van ver af lyk, want die monument moes sigbaar wees.” Van Wijk het besluit dat die lyne en ander elemente van die monument die natuurlike lyne van die omgewing moes naboots, en dat die boumateriaal by die rotse op die berg moes inpas.

Die volgende stap was om ʼn gepaste beeld te soek wat Afrikaans kon voorstel. Die meetkundige in Van Wijk het onmiddellik ʼn wiskundige hiperbool herken in die beeld wat die bekende skrywer CJ Langenhoven gebruik het om Afrikaans as skryftaal te beskryf, naamlik ʼn “snelstygende boog”. So is die idee van die groot suil gebore, met heel bo ʼn oop punt wat groei voorstel. Van Wijk het vir homself gesê: “Wonderlik – sien daar jou taal – ʼn lekker vorm. Maar hy kan nie net ʼn vorm wees nie, daar moet ook definisie wees.”

Om hierdie definisie visueel uit te druk, het van Wijk die woorde van die skrywer NP van Wyk Louw gebruik, wat Afrikaans beskryf as die taal wat Wes-Europa en Afrika soos ʼn brug verbind. Louw beskryf Afrikaans ook as ʼn “glansende werktuig” en ʼn “tweesnydende swaard”. Al hierdie gedagtes het die monument in Van Wijk se geestesoog laat vorm aanneem en uiteindelik in die struktuur en simboliek daarvan neerslag gevind.

5.    Simboliek

1.    Links (wes) van die aantrede tot die monument staan drie suile (A) wat die Wes-Europese tale en kulture verteenwoordig – Hollands, Frans, Duits, Portugees en ander. Nie een van die suile verteenwoordig ʼn spesifieke taal nie; die getal drie is gebruik omdat dit ondeelbaar is. Dit loop van hoog na laag om die verminderende invloed daarvan op Afrikaans uit te beeld. Die suile begin as aparte strukture wat dan in ʼn stygende kurwe saamsmelt om deel van die hooflyn van die monument te vorm. Die hoogste een van die drie is ongeveer 13,5 m (44 vt.) hoog.
2.    Regs (oos) van die aantrede is ʼn podium (C) wat die suidpunt van Afrika verteenwoordig. Op die podium is daar drie rondings, wat die invloed van die Khoi-, Nguni- en Sothotale simboliseer en, anders as die simbool van die Europese tale, in grootte toeneem. Hierdie strukture is só geplaas dat hulle ʼn kurwe vorm wat by die hooflyn  (naamlik Afrikaans) aansluit, en so die kring voltooi.
3.    Waar die twee kurwes van Wes-Europa en Afrika bymekaar kom (D), word ʼn brug gevorm, wat die versmelting van die twee kontinente se tale versinnebeeld.
4.    Die Maleise taal en kultuur word deur ʼn muur (B) op die trapaantrede van die monument voorgestel. Die muur is só tussen die kurwes van Wes-Europa en Afrika geplaas dat dit apart staan (omdat Maleis van die Ooste is), maar tog ʼn eenheid vorm met die twee kragte van Wes-Europa en Afrika wat saamsmelt om die brug te vorm wat dan simbolies die basis van Afrikaans uitbeeld.
5.    Die hoofsuil van die monument (E) stel die snelstygende boog van Afrikaans en sy versnellende groei voor. Die suil staan in ʼn poel water en dit versterk verder die gedagte van Afrikaans as ʼn lewende, groeiende entiteit, wat lewensonderhoud nodig het vir sy voortbestaan. Die skerp lyne van die suil verbeeld die tweesnydende swaard van Van Wyk Louw. Die suil is ongeveer 57 m (186 vt.) hoog en dit eindig oop en stomp om aan te dui dat die groeiproses nog steeds voortgaan. Die ligspel in die monument, as gevolg van die waterpoel en die openinge in die hoofsuil, versinnebeeld die taal as glansende werktuig.
6.     Saam met die hoofsuil in die poel staan daar nog ʼn suil (F), wat die republiek van Suid-Afrika uitbeeld. Die suil staan los van Afrikaans en het op sigself niks met Afrikaans te make nie, maar met die geheel. Die pilaar is oop na Afrika om aan te dui dat interaksie tussen Afrikaans, Suid-Afrika en Afrika voortdurend plaasvind.

6.    Struktuur

Die monument is opgerig deur ATM Konstruksie, ʼn konsortium bestaande uit Murray & Stewart (Boland) en Holtzhausen & Hugo.

Die komplekse taak om die struktuur op die korrekte plek en in die korrekte proporsies staan te maak, is uitgevoer deur eers die lyne en boë op skaalmodelle te ontwerp en dit daarna wiskundig in meetkundige boë om te sit.

Die boë is met behulp van 1100 punte op ʼn driedimensionele assestelsel geprojekteer om die buitelyne van die monument te bepaal. Drie koördinate vir elke punt is deur ʼn landmeter vanaf ʼn groot rots op die terrein bepaal. Die meetkundige model wat so verkry is, is gebruik om bekistingstukke vir die kurwes te bou, en voordat die beton gegiet is, is die koördinate weer eens wiskundig bevestig.

ʼn Spesiale betonmengsel is in ʼn voorafver¬vaardigde bekisting¬struktuur gegiet. Die bekisting het bestaan uit ‘n metaalraamwerk wat met skeepslaaghout uitgevoer is. Elke metaalpyp is op die terrein volgens sy spesifieke boog gebuig. Waar die kurwes aan die bokante van die suile te nou geword het vir die pype, is bekistingvorms uit hout vanaf skaalmodelle gemaak.

Die betonmengsel waarmee die monument gebou is, het bestaan uit sement, wit sand en Paarl-graniet. Aangesien die argitek die kleur van die rotse op die terrein wou naboots, het hy aangedring op die gebruik van die buitenste grysbruin lae van die graniet sáám met die binneste blouerige gedeelte. Die tekstuur van die rotse op die terrein is nageboots deur die gladde sementoppervlak met spesiale lugdrukbore te verwyder om die granietklippies in die mengsel bloot te lê.

Die hoofsuil is op Stellenbosch deur die WNNR in ʼn windtonnel getoets en daar is bevind dat dit ʼn windsterkte van tot 160 km/h kan weerstaan.

7.    Inwyding

Meer as 40 000 mense het op 10 Oktober 1975 die inwyding van die Taalmonument in die amfiteater bygewoon. Die amptelike feesrede is gelewer deur die eertydse eerste minister, mnr BJ Vorster. Op die program was opvoerings en voordragte deur bekende Afrikaanse akteurs en stemkuns¬tenaars. Onder andere is ʼn gedramatiseerde stigtingsvergadering van die GRA (teks deur Pieter Fourie) opgevoer. Interessant (vir daardie tyd toe apartheid nog hoogty gevier het), is die voordrag van Adam Small se gedig “Nkosi sikelel’ iAfrika”.
Die voorbereidings vir die inhuldiging het amper ontspoor toe verskeie vooraanstaande Afrikaanse skrywers gedreig het om die verrigtinge te boikot as bruin skrywers nie ook genooi word nie. Uiteindelik is verskeie bruin skrywers en verteenwoordigers van ander sektore van die bruin gemeenskap genooi, en ʼn beduidende aantal van hulle, asook groot getalle bruin skoolkinders, het die verrigtinge bygewoon. Sekere wit skrywers het egter steeds weggebly.

Die geleentheid was ook ʼn koorfees met nege kore. Onder andere het die Drakensbergse Seunskoor onder leiding van Louis van der Westhuizen, die Bel Canto-koor onder leiding van David Samaai en die Primrose-koor onder leiding van Abdullah Maged opgetree.

Die hoogtepunt van die geleentheid was die aankoms van agt fakkels (elk vernoem na ʼn GRA-stigterslid) wat op 14 Augustus vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria langs verskillende roetes na die Paarl vertrek het. Die eerste minister en sewe afstammelinge van die GRA-stigters het die fakkels in ontvangs geneem en die hooffakkel daarmee aangesteek. Dit het simbolies voorgestel hoedat die taal uitgedra is na die uithoeke van die land en weer teruggekeer het na sy ontstaanspunt.

8.    Die argitek, Jan van Wijk

Die argitek van die monument, Johan Carel van Wijk (2 Mei 1926 – 20 Mei 2005) het in 1949 die graad B.Arch. aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het by argiteksfirmas in Kaapstad, Pretoria, Londen en New York gewerk. In 1960 tree hy in die huwelik met Erna Marais. In 1963 stig hy sy eie praktyk wat mettertyd uitbrei tot ʼn maatskappy met vennote, direkteure en kantore in Verwoerdburg, Johannesburg, George, Mosselbaai en Mmabatho. In 1993 trek hy en Erna na Wildernis in die Suid-Kaap, waar hy woon tot met sy dood.

Gedurende sy loopbaan was Jan by meer as 870 projekte betrokke, waaronder die geboue van die Universiteit van Johannesburg (voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit) en talle opdragte vir die Rembrandt-groep. Behalwe die Taalmonument, het hy verskeie ander monumente ontwerp, onder andere vir die 43 kinderslagoffers van die Westdene-busramp.

Van al die projekte wat Jan in sy lewe aangepak het, het sy magnum opus, die Taalmonument in die Paarl, die naaste aan sy hart gelê. Dit is dan ook gepas dat sy as in ʼn granietrots op die terrein ingemessel is. Dit is sekerlik nie toevallig dat dit dieselfde rots is waarby hy en sy vrou op ʼn dag in 1964 tot rus gekom het toe hulle ter voorbereiding vir sy ontwerp die berg verken het nie.

Jan het in sy leeftyd verskeie toekennings ontvang, waaronder die Erepenning vir Argitektuur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1983), en die Kanseliersmedalje (1994) en die Alumni-laureaat (2003) van die Universiteit van Pretoria. ʼn Uittreksel uit laasgenoemde toekenning lui soos volg: “Jan van Wijk se werk is eg aan die konteks en kultuur waarbinne dit ontstaan. Sy werk illustreer ʼn sensitiewe ingesteldheid tot die Suid-Afrikaanse landskap en vind uitdrukking in aardse vorme wat sy liefde vir die natuur uitbeeld.” Hierdie eienskappe het hul reeds 40 jaar tevore openbaar in die ontwerp van die Taalmonument.

Van Wijk se oproep leef steeds voort ná sy dood: “Afrikaans . . . maak hom, praat hom, kry hom lief, leer hom, doseer hom, gaan aan met hom. Moenie dat hy doodgaan nie. Daar heel bo vorm die suil ʼn wortelpunt wat groei voorstel, groei sonder ophou, soos Afrikaans.”

9.    Die geskrewe woord by die monument

•    Dit is ons erns
Die geskiedenis van die bewoording wat in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring is, “Dit is ons erns”, kom ʼn lang pad. Dit gaan terug na 6 Maart 1905, toe die politikus JH Hofmeyr (Onze Jan), ʼn toespraak op Stellenbosch gehou het met die titel “Is’t u Ernst?” Hy was die genooide spreker by ʼn vergadering van Ons Spreekuur, ʼn Hollandse taal- en kultuurvereniging vir studente. Ironies genoeg, was hierdie toespraak nie gemik op die bevordering van Afrikaans nie. Onze Jan was ʼn voorstander van vereenvou¬dig¬de Hollands, en sy toespraak was ʼn pleidooi vir die herstel van die regte van Hollands. Dit was natuurlik in reaksie op die Britse heersers se verengelsingsbeleid. Die titel van die toespraak was dus ʼn vraag gemik daarop om die studente bewus te maak daarvan dat hulle die kwessie van taal ernstig moes benader.

In die toespraak jaag hy talle Afrikaansgesindes die harnas in met sy bewerings dat daar oral Engels gepraat word ten koste van Hollands deur mense wat hy Hollandsch-Afrikaansche boeren noem.

In reaksie op die toespraak skryf historikus en taalstryder Gustav Preller vanaf April tot Junie 1905 ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die opskrif: “Laat’t ons toch ernst wezen”. Hy span dus Onze Jan se wekroep in tot aansporing van die gebruik van Afrikaans (nie Hollands nie). Hy wys uit dat die probleem nie lê by ʼn gebrek aan erns nie, maar by die miskenning van Afrikaans vanaf regeringskant.

Dr DF Malan, voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging en latere Volksraadslid, lewer in 1908, ook op Stellenbosch, ʼn kragtige pleidooi vir Afrikaans, in ʼn toespraak met die bevestigende titel “Het is ons ernst” (vroeë Afrikaans vir “Dit is ons erns”). Die toespraak is so gewild dat dit in pamfletvorm versprei word.

Toe daar in 1974 ʼn sentrale tema vir die 1975 Taalfeesjaar gesoek is, is daar op die Afrikaanse vorm van hierdie aanhaling besluit, naamlik “Dit is ons erns”. Die bewoording het daarna op alle publikasies in verband met die Taalmonument verskyn, en is selfs op die monumentkomitee se amptelike skryfmateriaal gebruik. Argitek Jan van Wijk het voorgestel dat die woorde ook in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring word om die mens aan te gryp wanneer hy die trappies bestyg, en sy aandag te vestig op wat die monument wil sê.

•    CJ Langenhoven
CJ (Cornelis Jacobus) Langenhoven, ook bekend as Sagmoedige Neelsie, was een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers. In die vroeë dekades van die 20ste eeu is hy as volksbesit beskou. In Julie 1914 het hy in Bloemfontein ʼn lesing getiteld “Afrikaans as voertaal” voor De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Lettere en Kunst gelewer. Uit daardie lesing het die argitek Jan van Wijk die volgende woorde as inspirasie geneem:
As ons nou hier in die saal af ʼn ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal ʼn merk sou maak op ʼn hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en ʼn streep deur die merke trek, van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste, daar anderkant teen die solder, dan sou die streep ʼn snelstygende boog beskryf – nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na ʼn vinnig vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af. Sien u, menere, waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein in die jaar 1924.

•    NP van Wyk Louw
NP (Nicolaas Petrus) van Wyk Louw was een van Afrikaans se grootste skrywers, digters en denkers, en deel van die skrywersgroep wat as die Dertigers bekendgestaan het. Hy het in 1959 ʼn essay oor die stand van Afrikaans geskryf met die titel “Laat ons nie roem nie”. Daarin skryf hy onder andere (alle klem die skrywer s’n):
Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ón-helder Afrika; hulle is albei groot magte, wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.

Verder skryf hy ook:
Dis nie óns verdienste, óns Afrikaners s’n, dat daar aan ons ʼn werktuig gegee is wat in twee sulke smidswinkels (so ver uit mekaar) en deur soveel eeue gesmee is nie. Dis aan ons gegee; gemaak het ons dit nie. Ons taak (en as daar ooit verdienste sal wees, kan alleen dít ons verdienste wees), óns taak lê in die gebruik wat ons maak en sál maak van hierdie glansende werktuig, hierdie tweesnydende swaard.
 
10.     Die omgewing

Paarlberg is sowat 500 miljoen jaar oud en is bekend vir die drie reusagtige granietrotse Paarl-, Bretagne-, en Gordonrots. Die inheemse Khoi-stamme het die berg Skilpadberg genoem.

Ongeveer in die middel van die terrein waarop die Taalmonument geleë is, is ʼn klipkoppie wat uit groepe granietrotse bestaan. Hulle is almal klein weergawes van Paarlrots en die indruk word geskep dat die natuur dieselfde lyne en kurwes oor en oor op die berg herhaal.

Die plantegroei op Paarlberg is uniek, omdat dit ʼn soort fynbos is wat in kleierige granietgrond groei en slegs in beperkte gebiede voorkom, soos hier en teen die voetheuwels van berge in Somerset-Wes en Wellington. Die fynbos word besonder ruig en bereik ʼn hoogte van twee tot drie meter namate die veld ouer word. Suikerkanne (Protea laurifolia), tolletjiesbos (Leucadendron rubrum) en slangbos of Khoi-kooigoed (Seriphium plumosum) is volop. ʼn Kenmerk van Paarlberg is die koppies en stapels ronde granietrotse waar rondom immergroen bome soos klipkershout (Maytenus oleoides), kliphout (Heeria argentea) en olienhout (Olea africana) voorkom.

ʼn Aantal voëlsoorte endemies aan die Suidwes-Kaap, soos die Kaapse suikervoël of suikerbekkie (Promerops cafer) en die oranjeborssuikerbekkie (Anthobaphes violacea), kom in die fynbos voor. Ons sien soms roofvoëls soos witkruisarende (Aquila verreauxii), dwergarende (Aquila pennatus) en die rooiborsjakkalsvoël (Buteo rufofuscus). Heelwat kanaries, die Kaapse fisant (Pternistis capensis), die klein-rooiborssuikerbekkie (Cinnyris chalybeus), en die Kaapse tiptol (Pycnonotus capensis) kan ook gesien word.

Klein wildsboksoorte soos die grysbok (Raphicerus melanotis), vaalribbok (Pelea capreolus)  en klipspringer (Oreotragus oreotragus) kom op die berg voor. Ander soogdiere sluit dassies (Procavia capensis), Kaapse ystervarke (Hystrix africaeaustralis) en kolhase (Lepus saxatilis) in. Roofdiere wat op die berg aangeteken is, is die rooikat (Felis caracal), rooijakkals (Canis mesomelas) en gebande muishond (Mungos mungo). Leeus het vroeër wel voorgekom en daar word vermoed dat luiperds van omliggende berge Paarlberg steeds af en toe besoek.

ʼn Netwerk van paadjies maak Paarlberg ʼn ideale wandelgebied. Die Taalmonument-wandelpad neem ongeveer  ʼn halfuur om te voltooi, en die Klipkershout-sirkelroete deur die Paarlberg Natuurreservaat duur ongeveer twee uur.

Paarlberg was in die verlede ʼn gewilde kampeerplek. Elke Kersvakansie het mense by Meulwater, Krismiskamp en Oukraal gaan tent opslaan. Die Oukralers het bedags jukskei gespeel en saans musiek gemaak onder leiding van die banjospeler Manas de Villiers. Hy het in die 1940’s “Die Oukraalliedjie” geskryf, wat vandag nog landwyd gesing word.

11.     Die instelling

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) omvat vandag die Afrikaanse Taalmuseum, die Afrikaanse Taalmonument en die Paarl Amfiteater. Die Taalmuseum is ingerig in Pastorielaan 11, die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Die 4 000-sitplek-amfiteater is naby die monument teen die suidelike hang van Paarlberg geleë en word gereeld benut vir groot geleenthede.

Ná twee jaar van selfbestuur is eienaarskap van die ATM in 1977 aan die staat oorgedra. Vandag is die ATM ʼn openbare entiteit wat bestuur word deur ʼn raad – aangewys deur die nasionale Departement Kuns en Kultuur. Van dié departement ontvang die instelling ‘n jaarlikse subsidie. Die ATM genereer aanvullende fondse met borgskappe, donasies, toegangsfooie, die verhuring van fasiliteite, produkverkope, en die aanbied van geleenthede.

Die ATM as inklusiewe instelling beywer hom daarvoor dat alle Suid-Afrikaners Afrikaans respekteer en waardeer. In hierdie gees werk die ATM hard daaraan om Afrikaans veral onder die jeug en nie-moedertaalsprekers aan te moedig en te ondersteun. Die ATM poog deurlopend om respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bewerkstellig deur onder meer die wedersydse invloed op mekaar te erken en uit te beeld.

Die instelling se hoofdoelwitte is om toepaslike materiaal en inligting in te samel; navorsing te doen oor Afrikaans; die ontstaan, ontwikkeling, nut en uitbou van Afrikaans deur middel van uitstallings, lesings en artikels uit te beeld; opvoedkundige programme, begeleide toere en kulturele aktiwiteite aan te bied; en om die ATM se kultuurhistoriese erfenisterreine sowel as die erfenis van Afrikaans te bewaar.

Vir meer inligting, kontak gerus die ATM:
Tel: 021 872 3441
Faks: 021 871 1106
E-pos: admin@taalmuseum.co.za
www.taalmonument.co.za I www.taalmuseum.co.za
www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
www.twitter.com/taalmonument

12.    Taalmonumente in Suid-Afrika

Die monument teen die hange van Paarlberg is nie die enigste taalmonument in die land nie. Die oudste een waarvan die ATM bewus is, staan op Burgersdorp en is eintlik opgerig vir die erkenning van Hollands. Die dorpe Kroonstad en Welkom het albei in 1959 monumente vir die Afrikaanse taal opgerig.

Die grootskaalse veldtogte ter bewusmaking van en fondsinsameling vir die Taalmonument in die Paarl het baie patriotiese vure aangesteek, en heelwat ander dorpe het besluit om hul eie monumente op te rig, almal omstreeks die Taalfeesjaar, 1975. Die ATM weet van 40 monumente – onder andere op Lichtenburg, Ventersburg, Touwsrivier, Worcester, Louis Trichardt, Belfast, Ermelo, Ohrigstad, Delareyville, Petrus Steyn, Reddersburg, Reitz, Johannesburg, Ladismith, Riebeek-Kasteel, Aberdeen en Oos-Londen.

13.    Bronne

ATM-dokumentasie
Drakenstein Munisipaliteit, Paarlberg Natuurreservaat inligtingspamflet
Erna van Wijk, persoonlike mededelings
Langenhoven, CJ,  Ons weg deur die wêreld, JH de Bussy: Pretoria, 1918
Nienaber, CS, PJ Nienaber en CJM Nienaber, Dit was ons erns, Nasionale Boekhandel: Kaapstad, 1962
Nienaber, PJ, Die Vrystaatse Taalbeweging, Afrikaanse Pers Boekhandel: Johannesburg, 1947
Scholtz, J du P, Wording en ontwikkeling van Afrikaans, Tafelberg: Kaapstad, 1980
Van Wyk Louw, NP, Vernuwing in die prosa, Human & Rousseau: Kaapstad, 1961