Gratis toegang vir kinders onder 18, 20%-afslag op jaarpermitte

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is verheug om die heropening van die instelling op die eerste dag van die “mooiste maand” aan te kondig. Weens die koronavirus-pandemie was die ATM sedert Maart noodgedwonge vir die publiek gesluit, maar die versagting van Covid-19-regulasies en die nodige toestemming van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur beteken dat die vriendelike personeel besoekers weereens in die dorp en op die berg kan ontvang.

Hoewel Covid-19 ʼn onverwagte stok in die wiel van die ATM se 45ste verjaardagvieringe gesteek het, het die instelling met ʼn suksesvolle virtuele program voortgegaan wat nou met fisieke geleenthede en vieringe gekombineer gaan word. Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, het die ATM ook die inperkingstyd gebruik om onderhoudwerk te doen en personeel verder op te lei.

“Ons besef dat mense finansiële uitdagings het, daarom bied ons tot 31 Maart 2021 gratis toegang aan kinders onder 18, ʼn 20%-afslag op nuwe jaarpermitte en verleng ons die huidige jaarpermitte met ses maande,” sê hy. “Dit is ons manier om terug te gee aan die gemeenskap.” Besoekers aan die monument sal nou ook die fisieke uitstalling van die koronavirus-skryfkompetisie in die pragtige Groen Galery kan besigtig en ʼn mobiele koffiewinkel sal spys en drank aanbied. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies (geen glas) te bring.

Die regeringsprotokolle, soos die meting van besoekers se temperature en die handhawing van fisieke afstande, sal by die monument en in die museum geld. ʼn Basiese vraelys sal beantwoord moet word, maar diegene wat tyd wil bespaar, kan dit vooraf via die instelling se webtuiste aflaai, invul en saambring. Geen begeleide toere sal aangebied word nie, maar besoekers kan die inligtingsbrosjures lees of omvattende oudiogidse (beskikbaar in ses tale) gebruik. Hulle sal gereeld en deeglik ontsmet word. Die Taalmonument is elke dag vanaf 08:00 tot 16:45 oop – die laaste toegang is om 16:15. Die langer openingstye wat gewoonlik in die somer geld, sal vir eers nie kan gebeur nie. Die Taalmuseum is weeksdae vanaf 08:00 tot 16:45 oop – voorafbespreking is noodsaaklik indien meer as 10 persone op ’n slag dit wil besoek.

Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 en (0)71 500 8740 (selfoon slegs tydens werksure) of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Hulle het ook skakels na die gratis virtuele geleenthede wat die ATM sedert die inperking aangebied het.