Dit is in jul hande om ‘n beter wêreld vir almal wat daarin woon te skep – Madiba

Ter ere van Nelson Mandela-dag op Donderdag, 18 Julie 2019, gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn plaaslike laerskool, Groenberg Primêr, ‘aanneem’ en vir ʼn jaar lank op praktiese en prettige wyse ondersteun.

Dié inisiatief skakel in by die dag se doel om individue te inspireer om die wêreld ’n beter plek te maak deur 67 minute van hul tyd af te staan om ’n verskil in iemand se lewe te maak. Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, is die projek deel van die instelling se missie om die onmiddellike gemeenskap te dien en maatskaplike samehorigheid te bevorder. “Die instelling het reeds ʼn opname van die skool se behoeftes gemaak, dus ons gaan warm etes, skryfbehoeftes, rugsakke en toiletware op Mandela-dag uitdeel,” sê hy.

“Verder sal ons ʼn jaarlange leesprojek van stapel stuur om ʼn liefde vir spesifiek Afrikaanse boeke onder die leerders te kweek,” voeg Jonas by. “Ons gaan ook bome plant om skaduwee te verskaf en die skoolgrond te verfraai.” Die ATM sal die leerders einde vanjaar na die monument en museum vervoer om hierdie ikoniese instelling te besoek en Vader Kersfees, met geskenke vir hulle, te ontmoet.

Om vanjaar se Mandela-dag ekstra spesiaal vir die kinders te maak, word inwoners en belangstellendes uitgenooi om ook ʼn bydrae te lewer. In aanloop tot die dag kan skenkings van nie-bederfbare kos, skryfbehoeftes, toiletware en boeke by die Taalmuseum in Pastorielaan, Paarl, tot 11 Julie 2019 afgelaai word, waarna dit onder die leerders versprei sal word.

Vir navrae, kontak Verinque Hendriks op 021 872 3441 of vakkundige@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.