brokkie taalmuseum abu bakr effendi

29 Junie 1880

Abu Bakr Effendi was een van die bekendste imams wat vroeg in die 1800’s Arabiese Afrikaans aan die Kaap help ontwikkel het. Dit was een van die vroegste vorms van geskrewe Afrikaans. Aangesien die slawe se Islamitiese godsdiens vereis het dat hulle die Koran en godsdienstige geskrifte moes kon lees, was daar selfs op ʼn stadium ‘n hoër persentasie van geletterdheid onder Moslem-slawe as onder die Kompanjie se matrose en soldate.

Moslem-kinders is onder andere in die Dorpstraat Madrassa in die Bo-Kaap onderrig. Teen 1807 was daar ongeveer 375 kinders in die skool. Deel van die kinders se godsdiensoefeninge was om teksgedeeltes uit die Koran oor te skryf. Dit is oorgeskryf in hulle “koples”-boeke (oefeningboeke), en aangesien baie van hulle slegs die Kaapse Afrikaans verstaan het, is nuwe simbole vir die Arabiese alfabet ontwerp om Afrikaanse klanke foneties voor te stel. Verskeie leermeesters was hiermee besig. In 1877 is Abu Bakr Effendi se boek “Bayaan-ud-diyn” gedruk, een van die eerste publikasies in Arabiese Afrikaans. Hy is op 29 Junie 1880 oorlede.

Daar is vandag nog mense van die Moslem-gemeenskap in die Kaap wat hierdie Afrikaans in Arabiese skrif kan skryf en verstaan.

Bronne:

Gencoglu, H: Abu Bakr Effendi: An Ottoman Alim at the Cape of Good Hope. Centre for Contemporary Islam, University of Cape Town, 2015 (http://www.cci.uct.ac.za/2015-2)