brokkie taalmuseum doodkry is min

29 April 1961

Die première van die rolprent Doodkry is min vind op 29 April 1961 by die Voortrekker­monument in Pretoria plaas voor ‘n gehoor van 40,000 mense, die grootste rolprentgehoor nóg in Suid-Afrika. Die vertoning is deur Staatspresident CR Swart geopen en Mimi Coertse het ‘n vertolking van die lied O Boereplaas gelewer. Dit is uiteindelik deur sowat twee miljoen mense gesien, nadat dit in feitlik elke inryteater in die land vertoon is en ook oorsee versprei is. Die bekende Suid-Afrikaanse rolprentmaker Jamie Uys het die rolprent vervaardig in opdrag van die FAK. Doodkry is min gee ‘n historiese uitbeelding van die ontstaan, ontwikkeling en stryd om voortbestaan van die Afrikaanse taal sedert 1652.

In die aanloop tot die oprigting van die Taalmonument in die Paarl het die rolprent ‘n groot bewusmakingsrol gespeel. Die Taalmuseum het ‘n kopié van hierdie belangrike film.

Bronne:

Vriende van Afrikaans: Dae uit ons geskiedenis, 2009, p120
Wikipedia: Doodkry is min
Vandag in die Ou Dae, Beeld, Woensdag 29 April 1992