ATR en ATM Taaldag uitnodiging voorblad

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en die Afrikaanse Taalraad (ATR) bespreek gedurende hul gesamentlike Taaldagvieringe op 26 Augustus 2017 in die Paarl ʼn aantal interessante vrae oor die herkoms en vestiging van Afrikaans as volwaardige inheemse taal.

Hoe en waar het Afrikaans ontstaan en wie se taal is dit? Hoe verstaan mens vandag, met die agterna-insig van baie jare, die bydrae van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 tot die ontwikkeling en vestiging van die taal?  Wie het almal bygedra tot die wording van Afrikaans en hoe gaan Afrikaans in 2040 daar uitsien?

Die dag sal bestaan uit ’n paneelbespreking oor die herkoms van Afrikaans en ’n kultuurprogram wat die diverse herkoms en kulture van die Afrikaanse taalgemeenskap sal vier. Die paneellede is prof Christo van Rensburg, skrywer van So kry ons Afrikaans, Anzil Kulsen, skrywer en projekbestuurder by die ATKV, Imam Hashim Salie, voormalige president van die South African Hajj and Umrah Council, en prof Charlyn Dyers, mederedakteur van die boek Kaaps in fokus.

Michael Jonas, direkteur van die ATM, sê: “Die agt stigterslede van die GRA is vir almal ’n bemoedigende voorbeeld van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal. Afrikaans verkeer vandag weer onder geweldige druk, hoewel dit vir baie mense hul enigste vorm van kommunikasie is. Die ATM wil graag deel vorm van debatvoering oor brandpunte in ons Afrikaanse taalgemeenskap, veral dié wat die saak van Afrikaans en al haar sprekers benadeel.”

Volgens dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, sal hierdie Taaldag “help om etlike negatiewe narratiewe oor die herkoms en eienaarskap van Afrikaans te takel en daarmee samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes bevorder”.  Afrikaans.com sal help om die Taaldag-boodskap wyd uit te dra.

Die vieringe vind plaas by die saal van die Toringkerk in Paarl, hoek van Hoof- en Van der Lingenstrate. Die paneelbespreking begin om 09:30, gevolg deur die kultuurprogram om 13:30. Bywoning is gratis, maar sitplekke is beperk. Bespreek by Ria Olivier (ria@afrikaansetaalraad.co.za) of Nkita Pietersen (student@taalmuseum.co.za). Skakel gerus 021 872 3441 vir meer inigting en sien www.afrikaansetaalraad.co.za en www.taalmuseum.co.za vir meer oor die organisasies.

ATR en ATM Taaldag Program 2017