V.I.T.O, Elias P Nel en Jak de Priester help vier Taalmonument se 45ste fees
Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste feesjaar bied Saterdagmiddag, 29 Februarie 2020, ʼn opwindende program met musiek en stories uit die boonste rakke. Die immergewilde Jaloersbokkies, V.I.T.O, Elias P Nel, The Unknown Dance Crew en Jak de Priester gaan die gaste vermaak as deel van ʼn vol dag met baie ander aktiwiteite. Dit vorm als deel van die Taalmonument se naweeklange feesvieringe wat onder meer kindervermaak, ʼn pretstap, joga, jazz-konsert, rock-tronika-konsert, digkunsklas en mark op die wonderskone Paarlberg insluit.

Die Jaloersbokkies, so eg Kaaps soos breyani en koesisters, soos ghoema en winterreën, sal eerste aantree. Hierdie dames en here, uitgedos in klere wat aan die 1950’s herinner, spog met liedjies wat nostalgies op die oor val. Volgende is Vito Heyn, oftewel V.I.T.O, ʼn jong rymkletser van Namakwaland wat vinnig opgang maak danksy sy oorspronklike, inheemse Nam-Afrikaanse lirieke en Boheemse styl. ʼn Eerste vir Afrikaans. Hy word opgevolg deur Elias P Nel, wat geen bekendstelling nodig nie. Hierdie ‘bek sonner brieke’ is ʼn bobaasstorieverteller wat almal aan sy lippe laat hang te danke aan verhale gevul met bittersoete én uitbundige humor. The Unknown Dance Crew is volgende aan die beurt. Gewapen met handskoene en maskers, vergas en verras dié groep malse teatrale dansers hul gehore keer op keer met hul onverwagse, snelvloeiende uitvoerings op die maat van oorspronklike musikale kombinasies.

Laaste, maar nie die minste nie, is Jak de Priester. Sedert hierdie sanger en digter se debuutalbum het talle nommer-een radiotreffers, toekennings, benoemings en suksesvolle albums gevolg – kom beleef self waarom ‘Jak’ en ‘sangsensasie’ gewoonlik in dieselfde asem genoem word.

Dié geleentheid begin om 13:00 en is oop vir enigiemand met ʼn dagkaartjie. Die veeltalige, multikulturele program beloof om Afrikaans in al haar pragtige gedaantes te laat pronk om sprekers en nie-sprekers met ʼn unieke, gesellige gees te omarm. Naas die speelparke en buitelugspeletjies vir kinders, sal ʼn paar energieke oppassers die jongspan uit die kwaad hou met ʼn poppekasvertoning, gesigverf en meer.

Dagkaartjies kos R80 vir volwassenes en R40 vir kinders onder 13 – dit sluit alle aktiwiteite vanaf 10:00 in. Dit is vooraf te koop by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en aanlyn via Computicket (www.computicket.co.za). Helaas word geen eie kos of drank toegelaat nie. Vir besonderhede oor die 2020-feesprogram, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/

Daar is ook ʼn 5km-pretstap (om 08:00, R30 vir volwassenes en R10 vir kinders onder 13) op Saterdag ten bate van die Taalmonument se geletterdheidsprojek. Saterdag se feesdag volg boonop op Vrydagaand, die 28ste, se rock-troniese musiek van Akkedis Band – Afrikaanse rock met ʼn stewige skeut Afrika-, reggae en blues-invloede – asook Die Heuwels Fantasties se futuristiese elektronika ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Drank- en kosstalletjies beskikbaar; onthou warm klere en komberse.

Die Taalmonument bestuur onder meer ʼn geletterdheidsprojek, het ʼn skool ‘aangeneem’ ten bate van Nelson Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat ‘Baie Dankie!’ Gaste word ook aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek aan die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die ‘Laat ons Lees!’-projek.

Vir meer oor al die ander opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.