Stersirkels-fotografiewerkswinkel by Taalmonument

’n Fotografiewerkswinkel, waar deelnemers sal leer om stersirkels (“star trails”) af te neem, word op Saterdag, 2 Februarie 2019, by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl aangebied.

Dié praktiese werkswinkel, deur professionele fotograaf en geregistreerde toergids, Peter Haarhoff, van die Cape Photographic Company, is geskik vir beginner- tot intermediêre fotograwe. ‘n SLR-kamera (digitaal of 35mm), driepoot en beheerkabel is noodsaaklik. Deelnemers sal maklike en betroubare maniere leer om goeie stersirkel-foto’s te neem, insluitend watter instellings die beste werk om die Melkweg af te neem en hoe om die BULB-instelling op jou kamera te gebruik.

Die werkswinkel kos R750 en sluit notas in. Die werkswinkel vind van 18:00 tot 22:30 plaas. Bespreking is noodsaaklik, dus kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za.