Sterrekykpiekniek Taalmonument 2017 2018

Hemelruim Versoening by die ikoniese Taalmonument op 16 Desember

Dis tyd om die ‘soen’ terug te sit in ‘versoening’. Daarom is een en almal welkom om  Versoeningsdag by die Afrikaanse Taalmonument op 16 Desember 2017 met ‘n feestelike sterrekykpiekniek in ‘n beeldskone omgewing te vier. Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope deel. Boonop is ‘n pragtige sonsondergang en ‘n gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ‘n geletterdheidsprojek.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers, wat veral die mooie naguitsig van die vallei, berge en Kaapse Skiereiland geniet. Die tema is ‘Hemelruim Versoening’ en die piekniek begin om 18:00. Die begeleide toer van die monument is om 18:30 en besoekers kan van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die sterre kyk. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies saam te bring of een (teen R300 vir twee persone, of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (021 863 2800). Die onlangs vergrote en verbeterde Volksmond sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm klere.

Die toegangsprys is R40 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer sleg is. Skakel 072 181 6744 vir weernavrae. Vir meer inligting oor geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg ons op Facebook.  Die volgende Sterrekykpieknieks vind op 13 Januarie 2018, 10 Februarie en 10 Maart plaas.

Die Afrikaanse Taalmonument: kultuur, natuur en plesier. Én omgee vir die gemeenskap van hier.

{Spreekwoord van die dag: ‘Iemand tot die sterre ophemel/prys’, menende om iemand uitbundig te prys}