Lungi, Ramon en Paarl Vallei Eisteddfod sluit hierdie 45ste fees op hoë noot af

Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se eerste partytjie om 45 jong jare te vier, bereik ʼn jazz-hoogtepunt op Saterdagaand, 29 Februarie 2020, danksy Lungi en Ramon se ongelooflike sang- en klaviertalente; in’t kort, die perfekte klankbaan vir ʼn soel laatmiddag. Hierdie konsert in die intieme Tuinteater aan die voet van die Taalmonument, vorm deel van die instelling se naweeklange fees wat onder meer kindervermaak, ʼn pretstap, joga, middagkonsert, rock-tronika-konsert, digkunsklas en mark op die wonderskone Paarlberg insluit.

Lungelo Motaung, oftewel Lungi, is ʼn gewilde kunstenaar by musiekveneus en word geloof vir haar vokale reikwydte, verhoogpersoonlikheid en interpretasie van ʼn wye verskeidenheid items. Daarna volg Ramon Alexander, ʼn musikale maestro wat nuwe lewe in Kaapse jazz blaas met oorspronklike komposisies en vingers wat flatervry oor die klavier se akkoorde gly. ʼn Weergalose sononder-bederf is dus op hierdie skrikkeldag-spyskaart!

Die hoofgeleentheid begin om 18:00 en is oop vir enigiemand met ʼn dagkaartjie. Boonop sal die Paarl Vallei Eisteddfod se talentvolle musikante met hul klassieke klanke vanaf 17:00 almal in die regte stemming kry voor die indrukwekkende, simboliekgelaaide beeldhouwerk wat erkenning aan Afrikaans se Europese, Suidoos-Asiatiese en Afrika-wortels gee. Die veeltalige, multikulturele naweekprogram beloof om Afrikaans in al haar pragtige gedaantes te laat pronk om sprekers en nie-sprekers met ʼn unieke, gesellige gees te omarm. Naas die speelparke en buitelugspeletjies vir kinders, sal ʼn paar energieke oppassers die jongspan uit die kwaad hou met ʼn poppekasvertoning, gesigverf en meer.

Dagkaartjies kos R80 vir volwassenes en R40 vir kinders onder 13 – dit sluit alle aktiwiteite vanaf 10:00 in. Dit is vooraf te koop by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en aanlyn via Computicket (www.computicket.co.za). Helaas word geen eie kos of drank toegelaat nie. Vir besonderhede oor die 2020-feesprogram, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/. Meer oor Lungi by facebook.com/lungelo.motaung.9 en oor Ramon by ramon-alexander.com.

Daar is ook ʼn 5km-pretstap (om 08:00, R30 vir volwassenes en R10 vir kinders onder 13) op Saterdag ten bate van die Taalmonument se geletterdheidsprojek. Saterdag se feesdag volg boonop op Vrydagaand, die 28ste, se rock-troniese musiek van Akkedis Band – Afrikaanse rock met ʼn stewige skeut Afrika-, reggae en blues-invloede – asook Die Heuwels Fantasties se futuristiese elektronika ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Drank- en kosstalletjies beskikbaar; onthou warm klere en komberse.

Die Taalmonument bestuur onder meer ʼn geletterdheidsprojek, het ʼn skool ‘aangeneem’ ten bate van Nelson Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat ‘Baie Dankie!’ Gaste word ook aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek aan die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die ‘Laat ons Lees!’-projek.

Vir meer oor al die ander opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.