Taalmuseum Skerpskryf 2018

Wees skerp en wen met ’n skeppende skryfkompetisie!
Talle kontantpryse op die spel vir leerders in Drakenstein

Kan jy met woorde goël, sinne optower en oorspronklike gedagtes aan mekaar timmer? Dan is die agste ‘Skerpskryf in Afrikaans’, ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein, die perfekte plan vir maklike kontant in die hand. Inskrywings is boonop gratis, dus deelnemers kan net wen.

Die kompetisie word aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. In 1883 was die gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf. Dit sal boonop help om belowende jong skrywers te identifiseer. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ʼn prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool waar hulle ook sal deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë: Graad 10-, 11- en 12-leerders moet ʼn opstel van tussen 250 en 300 woorde skryf oor die volgende onderwerp: Wil jy graag in Afrikaans of Engels, of in een van die ander landstale, skoolgaan en hoekom? Graad 7-leerders moet ʼn opstel van 200 woorde oor dieselfde kwessie skryf.

Leerders én skole kan ʼn hele paar pryse wen. Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die skeppende en taalkundige afdelings wen elk R500 kontant asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boek as prys. Die ses wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die persoon wat die wen-inskrywing aangemoedig het, sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elkeen R500.

Leerders kan by hul Afrikaansonderwysers uitvind hoe om in te skryf. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Inskrywings moet teen 28 Julie 2018 ingehandig word by Verinque Hendriks in die Taalmuseum te Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae en elektroniese inskrywings, kontak haar op 021 872 3441 of vakkundige@taalmuseum.co.za.