Maak juweliersware met polimeerklei by Taalmonument

Vir die skeppendes van gees wat boonop mal is oor juweliersware bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op Saterdag, 3 Augustus 2024, ’n unieke polimeerkleikursus met Inge Thompson aan.

Op die pragtige Paarlberg sal deelnemers leer hoe om hierdie veelsydige materiaal te omvorm in unieke juweliersware wat by hul persoonlikhede pas. Polimeerklei word oor die algemeen gebruik vir die maak van kuns- en kunsvlytitems, en word ook in kommersiële toepassings gebruik om dekoratiewe elemente te skep. Anders as normale klei wat teen hoë temperature gebak moet word, kan polimeerklei met ’n haardroër of gewone oond verhard word. Kuns gemaak van polimeerklei kan deesdae in groot museums gevind word.

Thompson gebruik polimeerklei, varswaterpêrels, ‘n verskeidenheid krale, vlekvrye staal en sterling silwer om liggewig oorbelle te maak wat perfek is vir sensitiewe ore. “Sluit by my aan vir ‘n skeppende ‘my-tyd’ en stap weg met ten minste twee pare van jou eie oorbelle,” sê sy oor die werkswinkel by die Taalmonument.

Die tweetalige werkswinkel vanaf 9:30 tot 12:00 kos slegs R400 per persoon, wat alle materiaal, ʼn gratis besoek aan die monument asook verversings insluit. Deelnemers kan hul eie middagete bring of die Suikerkan-bistro ondersteun, waar hulle 10%-afslag ontvang. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Stefanie Rasztabiga via 021 872 3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za. Meer oor Thompson by lookuphandmade.com.

  • Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.