Die Nederlandse seemanstaal van die 1600’s het inslag gevind in Afrikaans, maar hoe het dit gebeur? Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) was ’n baie groot handelsorganisasie wat in die 1600’s en 1700’s handel gedryf het oos van die Kaap die Goeie Hoop en wes van die straat van Magellaan. Dit was belangrik vir die skepe wat vanaf Europa na Asië gevaar het om vars water en voedsel te verkry op hul reise en gevolglik is Jan van Riebeeck en ʼn gevolg uit Nederland na die Kaap gestuur om ’n verversingspos hier te stig.

VOC-reisigers het ’n aangepaste vorm van Nederlands gedurende hul verblyf in die Ooste gepraat. In die 1600’s was Nederlands nog nie gestandaardiseer nie en was daar baie variëteite van die taal. Hierdie verskillende variëteite het saam met nedersetters, vanuit verskillende dialekgebiede van Nederland en met verskillende beroepe, na die Kaap gekom. Amptenare van die VOC moes die meer formele Nederlandse amptenaartaal gebruik, terwyl die matrose en ander laaggeskoolde nedersetters eenvoudiger taal gebruik het.

Dr Helena Liebenberg meld die volgende interessanthede aanwesig in die Wes-Kaapse argivale bronne wat sy bestudeer het. “Op die skepe moes die combaars, kooigoed en combuijs sorg dat die ontberings van geharde matrose tot jong hooplopers minder fel/hel was; by die rheede het hierdie items en hul benamings saam met die seemanne aan wal gegaan en is dit by die Kaapse strooidakhuisies en ander plekke ingedra. So beland selfs kok en koksmaat naderhand in die combuijsen (1709) van die hospitaal en slavenlogie.”

In Van Riebeeck se Dagregister is daar by 10 April 1652 ’n kaart van die Fort de Goede Hoop, en in die sleutel tot hierdie kaart word die woord combuys aangedui.

Baie tipiese Afrikaanse woorde is van daardie seemanstaal afkomstig soos byvoorbeeld baken, spens, bulsak, kardoes en reling. Die term maswerkknoop is ook op skepe gebruik. Vandag word dit op plase gebruik vir ander doeleindes. Woorde soos spens, afslag, baken, balie, bottel, kokspens, kooigoed, brandwag en dros kom in argiefstukke van die 1600’s voor.

Bronne:

Die Wes-Kaapse Argief en die begin van Afrikaans, dr Helena Liebenberg, Tydskrif vir Geesteswetenskappe. vol.58 n.2 Pretoria Jun 2018
Die storie van Afrikaans Deel 1, WAM Carstens & EH Raidt
So kry ons Afrikaans, C van Rensburg
LitNet 2020-07-09: Nederlandse seemanstaal en Afrikaanse uitdrukkings