Woordfees se diskoersreeks takel die tameletjies, triomfe en toekoms

Sluit aan by ʼn boeiende Woordfees-gesprek op Dinsdagmiddag, 10 Maart, in Stellenbosch wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) as deel van sy 45ste bestaanjaar die vraag stel oor wat presies in 2020 herdenk word. ʼn Paneel van kenners kyk hoe vanjaar se feesvieringe ʼn geleentheid bied om ’n strategie te vind om dié kontinentale kultuurbate relevant te hou, en alle teenwoordiges word gepols oor hul versugtinge wat die monument en museum betref.

“Hoe bewerkstellig die ATM ’n omgewing waarbinne maatskaplike samehorigheid, taaltrots en inklusiwiteit geskep word onder ’n taalgroep met die grootste rassediversiteit in die land?” vra Michael Jonas, die ATM se direkteur, aan dr Marlene le Roux, Kunstekaap se hoof uitvoerende beampte, me Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, prof Steward van Wyk, dosent in Afrikaanse letterkunde, en prof Wannie Carstens, taalkenner en skrywer. Gehoorlede kry ook die geleentheid om vrae te vra en bydraes te lewer.

Die ATM, wat langer in ʼn demokratiese Suid-Afrika as apartheid-Suid-Afrika leef, het reeds ʼn groot transformasieproses ondergaan om die groter Afrikaanssprekende gemeenskap te omarm en aandag op Afrikaans se miskende geskiedenisse en variante te plaas. Volgens Jonas is die idee om ʼn bestekopname te maak oor hierdie nasionale en kontinentale bate se suksesse, tekortkomings en uitdagings in die verlede, hede en toekoms. “Ons wil ʼn platform skep om die publiek te betrek om insette te lewer, wat deel sal vorm van ʼn padkaart om aan te dui hoe ons die instelling wil bestuur ten einde aktueel en relevant te bly,” sê hy. “Ons wil weet hoe ons beter uiting kan gee aan ons mandaat om ʼn inklusiewe ruimte vir meertaligheid en alle Afrikaanssprekendes te skep.”

Hy gaan agt kwessies aanspreek deur elk van die paneellede te vra om uitgebreid op twee spesifieke vrae te antwoord. Daarna sal ʼn lewendige ope gesprek en ʼn paar slotopmerkings aan die beurt kom. Die gratis geleentheid is van 15:30 tot 17:30 in die Adam Small Seminaarkamer in Victoriastraat, en almal is vry om hul sê te sê oor die toekoms van hierdie kultuurskat. RSVP vir Riana Dempers via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 021 863 0543 teen 6 Maart of daag bloot op. Meer oor die Woordfees by www.woordfees.co.za.

Le Roux, ʼn bekende kampvegter vir vroue en gestremdes, was ʼn vakadviseur by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement voordat sy by die Kunstekaap aangesluit het. Haar aanstelling daarna as die hoof uitvoerende beampte van die Kunstekaapsentrum het geskiedenis gemaak omdat sy die eerste bruin persoon én eerste vrou was om hierdie posisie te beklee. Sy is medeskrywer van ‘Die Wellingtonse Klopse’ en haar vele eerbewyse sluit in die Shoprite/Checkers-Vrou van die Jaar-toekenning, die Desmond Tutu Legendary-toekenning en die Afrikaanse Taalraad se Koker vir Bemagtiging deur Afrikaans in die kunste. Le Roux dien ook as lid van die Presidensiële Werksgroep oor Gestremdhede.

Bailey het ’n meestersgraad in historiese en erfenisstudies, en is werksaam as AfriForum se hoof van kultuursake. Verskeie van haar formele wetenskaplike en minder formele artikels oor kultuurgeskiedenis en migrasie is gepubliseer en sy skryf ook gereeld resensies vir vakwetenskaplike tydskrifte. Haar kinderboek, ‘Die Prinses van die Afrikavlaktes’, het in 2007 verskyn en is bekroon met ʼn ATKV-Woordveertjie en die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur. Sy is ʼn voormalige direksielid van die Afrikaanse Taalraad, die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Bailey het ook al gedien as lid van die Minister van Kuns en Kultuur se taakspan oor erfenistransformasie.

Steward is hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en vise-dekaan vir navorsing en nagraadse studies in die Lettere Fakulteit. Hy is die voorsitter van die Jan Rabie en Marjorie Wallace Beurskomitee en ondervoorsitter van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek. Hy is ook ’n lid van die raad van die ATM en dien op die direksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans asook en die Helpmekaar Studiefonds. Van Wyk het al die Elisabeth Eybers-beurs van die SA Akademie ontvang en ’n Afrikoon-toekenning van die ATKV.

Carstens, ʼn voormalige raadsvoorsitter van die ATM, dien of het gedien op talle liggame wat Afrikaans raak en was betrokke by die totstandkoming van verskeie samewerkings- en uitruilooreen¬komste met universiteite en ander instansies in die Lae Lande. Hy is ook mederedakteur van ‘Die Storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika’, ‘Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde’ en ‘Ons kom van vêr’. In 2014 hy die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekenning ontvang vir sy werk ter wille van Afrikaans. Carstens was ook ondervoor¬sitter van die raad van PanSAT.

Vir meer inligting oor hierdie en al die ander opwindende geleenthede soos die musiekfeeste, pieknieks en gesprekke asook die Taalmonument se 45ste verjaardagvieringe in 2020, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.