Die gewilde rymkletser Jitsvinger kom met woorde toor by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdag-viering op 16 Junie 2017 by Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl.
Jitsvinger is die gasspreker en sal ook ‘n kort werkswinkel oor rymklets in Afrikaans aanbied. Die gratis program vind van 10:00 tot 12:00 plaas. Dit sluit ook ‘n optrede in deur die plaaslike rymkletsgroep Getuie$, asook ‘n oopmikrofoonsessie (waarvoor belangstellendes vooraf moet inskryf). Die program word regstreeks uitgesaai deur die plaaslike radiostasie, Radio KC 107.7FM.
Die uitvoerende kunstenaar Quintin Goliath, beter bekend as Jitsvinger, is ‘n gevestigde skrywer, komponis, opvoeder en musikant van die Kaapse Vlakte. Hy beskryf homself as ‘n “multifasetkunstenaar met hope kreatiwiteit en ‘kultuur’ te spaar”. Hy het onlangs teruggekeer van sy tweede Nederlandse toer, hierdie keer met die musikale teaterproduksie “South African Road Trip: Celebrating Life”. Jitsvinger werk tans aan sy tweede album ná die suksesvolle afskop van sy loopbaan met die vrystelling van “Skeletsleutel” in 2006. Hy is ook in Junie in Artscape te sien in “Smoortjies&Smoothies” met Mervyn Africa.
Volgens Michael Jonas, die Direkteur van die ATM, wil die ATM met hierdie geleentheid die diversiteit van Afrikaanse musiek vier, veral onder jongmense. “Rymkletsers is digters in hul eie reg wat op ‘n byderwetse wyse jongmense bewus maak van die rykheid van ons taal en poësie. Ons is dankbaar vir ons mediavennootskap met Radio KC wat dié boodskap aan nog ‘n wyer gehoor bekendstel, ” sê Jonas.
Toegang is gratis, maar bespreking is noodsaaklik. Bespreek by Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za. Die Taalmonument op Paarlberg is op Jeugdag van 08:00 tot 17:00 oop vir die publiek (laaste toegang om 16:30). Toegang is gratis vir Drakenstein-inwoners met biblioteekkaartjies, R30 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensioenarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Vir meer inligting oor die ATM, besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.