Taalmonument se 45ste vieringe spring weg met Akkedis en Heuwels Fantasties

Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste feesjaar spring op Vrydag, 28 Februarie 2020, weg met ’n klinkende nag se rock-en-elektronika-jol – na jou oortromme gebring deur Akkedis Band en Die Heuwels Fantasties.

Akkedis se Afrikaanse rockmusiek met ʼn stewige skeut Afrika-, reggae en blues-invloede is eerste aan die beurt. Die Dennis-tweeling, Arthur en Rudolph, het op 12-jarige ouderdom hul eerste akkoord getokkel nadat hulle aan almal van Neil Young tot Bob Marley blootgestel is. Toe Adrian John Graham by die groep aangesluit het, het hul klank gevorder tot die tydlose rock wat Suid-Afrikaners al meer as twee dekades ken en geniet. Hulle het gemiddeld vier vertonings per week en is nie van plan om binnekort uit te span nie. Of dit nou Zoeloe, Afrikaans of Engels is, daar is niks wat hierdie knape nie kan doen nie.

Op hul hakke volg Durbanville se Heuwels met hul futuristiese elektronika, ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Hunter Kennedy, Pierre Greeff, Sheldon Yoko en Fred den Hartog word geprys vir hul unieke musiek en energieke optredes, en het sedert hul ontstaan in 2008 ‘n groot en wye groep aanhangers ingesamel. Die Heuwels het al vyf vollengte-albums opgeneem en opgetree by al die groot feeste in Suid-Afrika. Hulle het ook die verhoog gedeel met verskeie internasionale groepe, waaronder Kings of Leon, en getoer in lande soos Nederland, België en Engeland. Hou ʼn oor oop vir hul jongste enkelsnitte wat in Desember 2019 uitgereik is.

Drank- en kosstalletjies asook veilige parkering sal beskikbaar wees; onthou asseblief om warm klere en komberse te bring. Die konsert begin om 19:00, maar die hekke open reeds om 17:00 wat besoekers genoeg kans gee om hierdie geskiedkundige beeldhouwerk van nader te bekyk terwyl die somerson water trek. Daar is ook ʼn buitelug-uitstalling van gedigte in die Groen Galery, speelparke vir die kinders en pragtige vergesigte oor die Kaapse Skiereiland en die Bolandse berge. Helaas word geen vure, honde en eie kos of drank toegelaat nie.

Kaartjies kos slegs R150 vir volwassenes en R70 vir kinders onder 13. Dit is vooraf te koop by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en aanlyn via Computicket (www.computicket.co.za). Meer oor Die Heuwels Fantasties by www.dieheuwels.co.za en oor Akkedis Band by www.facebook.com/AkkedisSA.

Die Vrydagaand is deel van ʼn naweeklange fees van musiek, stories, kindervermaak en ʼn mark op die wonderskone Paarlberg. Op Saterdag is daar onder meer ʼn pretstap, joga, jazz en digkunsklas om te verseker álmal het ʼn prettige manier om een van Afrika se jongste tale te vier. Die veeltalige, multikulturele program met onder andere Jak de Priester, Lungi, Jaloersbokkies en V.I.T.O sal Afrikaans in al haar pragtige gedaantes laat pronk om sprekers en nie-sprekers met ʼn unieke, gesellige gees te omarm. Vir besonderhede oor die 2020-feesprogram, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/

Die Taalmonument bestuur onder meer ʼn geletterdheidsprojek, het ʼn skool ‘aangeneem’ ten bate van Nelson Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat ‘Baie Dankie!’ Gaste word ook aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek aan die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die ‘Laat ons Lees!’-projek.

Vir meer oor al die ander opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.