Laaste Volmaanpiekniek by Taalmonument sal weer betower

Terwyl die somer einde se kant toe staan, kan Kapenaars en besoekers die volmaan van nader bekyk tydens ʼn heerlike aand op die beeldskone Paarlberg. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel nooi almal dus hartlik uit om hierdie natuurverskynsel vir oulaas op Vrydag, 18 Maart 2022, met hulle te vier.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek gewy aan die Oesmaan. Gedurende Maart is die oes van verskeie somergrane in volle swang in die land. Somergrane is ook in hierdie tyd deur inheemse mense in ‘n redelike groot gedeelte van pre-koloniale Suid-Afrika geoes, lank voordat enige van die ander, nuwer gewasse bekendgestel is.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou ook warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioenarisse, R5 vir kinders, en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.