Taalmonument Piekniekreeks 2015 2016

Kultuur, natuur én plesier – dit is wat ’n piekniek by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl inhou – en dit is vir ’n goeie doel! Die monument se gewilde Tuinteater Piekniekreeks word vanjaar vir die negende keer aangebied en groei elke jaar wat bywoning én diversiteit betref. Vanjaar sluit dit ‘n opwindende program van volmaan- en sterrekykpieknieks, piekniekkonserte en –flieks, vuurdans én ‘n musiekblyspel in. Elvis Blue, Emo Adams en Laurika Rauch is van die kunstenaars wat ten bate van Laat ons Lees! in die 1 000-sitplek Tuinteater – op die grasperk aan die voet van die Taalmonument – optree.

Maak ‘n knoop in jou oor:

•    Volmaanpieknieks vind plaas op 24 Oktober, 21 November en 26 Desember 2015 (Tweede Krismis; met Kersvader), en 23 Januarie en 20 Februarie 2016. Die gewone toegangsfooi van R25 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar) geld vir Volmaanpieknieks. ‘n Hoogtepunt is die gratis Volmaan-boekpiekniek op 21 November waartydens Donnalee Roberts en Ivan Botha (van Pad na jou hart-faam en trotse ambassadeurs van die monument) die boek gebaseer op hulle nuwe fliek “Vir Altyd”, wat gedeeltelik in die Paarl verfilm is, bekendstel.
•    Tydens die Sterrekykpieknieks (op 17 Oktober, 14 November en 5 Desember 2015, en 16 Januarie, 13 Februarie, en 12 Maart 2016) ontdek besoekers die sterrehemel deur die teleskope van die Orion Observasie Groep (OOG), ’n informele sterrrekundeklub van die Boland. Kaartjies kos R35 vir volwassenes en R10 vir kinders.
•    Op 11 Desember 2015 is die musiekblyspel van Die Sideboard, die debuutroman van die bekende akteur Simon Bruinders, met régie deur Albert Maritz, te sien.
•    Op 27 Desember 2015 bied die vuurdansers van The Psychedelic Theatre weer hul gewilde Dans van die Vlamme-vertoning aan. ‘n Spesiale volmaan-vertoning word vir 26 Maart 2016 ter viering van Earth Hour beplan.
•    Op 31 Desember 2015 kan almal by ’n Oujaarspiekniek kom kuier, met ’n kanonafvuring om 24:00.
•    Paartjies kan op 14 Februarie 2016 ’n Valentynspiekniek bywoon.
•    Piekniekkonserte sluit in Laurika Rauch (8 Januarie 2016) The Rockets (29 Januarie 2016), Elvis Blue (5 Februarie 2016), Karlien van Jaarsveld (12 Februarie 2016), Emo Adams (4 Maart 2016) en Die Heuwels Fantasties (8 April 2016).
•    Piekniekflieks op die groot skerm word beplan vir Januarie tot Maart 2016.

“Ons pieknieks is bekostigbaar en bied praguitsigte,” sê Jack Louw, Direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. “Die Taalmonument is ’n nie-winsgewende instelling wat bedryf word as ’n agentskap van die nasionale Departement van Kuns en Kultuur. Ons piekniekreeks is ’n belangrike manier om fondse in te samel om ons projekte volhoubaar te bestuur. Ons nooi almal vriendelik uit om ons te ondersteun, en sodoende by te dra tot ons leesprojek vir kinders.”

Besoekers kan hul eie piekniek bring of een by Volksmond Koffiewinkel bestel (tel. 021 863 2800). Kaartjies is vooraf by Computicket, asook by die Taalmonument beskikbaar. Besprekings (by tel. 021 863 4809/0543) is noodsaaklik vir Sterrekykpieknieks, sodat daar voorsiening gemaak kan word vir genoeg teleskope.

Die Taalmonument is vanaf Desember tot Maart daagliks tot 20:00 oop. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Met trots ondersteun deur KykNET en Kie