Arno Carstens, Refentse, Amanda Strydom en Coenie de Villliers is van die kunstenaars wat hierdie seisoen ten bate van Laat ons Lees! in die 1 000-sitplek Tuinteater, op die grasperk aan die voet van die Taalmonument, optree.

Maak ‘n knoop in jou oor:

  • Piekniekkonserte sluit in Arno Carstens en Refentse (2 Desember 2016), The Rockets (27 Januarie 2017), Bobby van Jaarsveld (24 Februarie 2017), Amanda Strydom en Jak de Priester (10 Maart 2017), Coenie de Villiers, Hemelbesem en Yoma (18 Maart 2017) en Die Heuwels Fantasties (31 Maart 2017). Kaartjies kos R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Kaartjies vir The Rockets kos R100 of R30 vir kinders onder 13 jaar.
  • Op 30 Desember 2016 bied die vuurdansers van The Psychedelic Theatre weer hul gewilde Dans van die Vlamme-vertoning aan. Kaartjies kos R100 vir volwassenes, R80 vir studente en R50 vir kinders onder 13 jaar.
  • Paartjies kan op 14 Februarie 2016 ’n Valentynspiekniekkonsert met onder andere André Schwartz bywoon. Kaartjies kos R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar.
  • Tydens die Sterrekykpieknieks (op 29 Oktober, 26 November en 17 Desember 2016, asook 21 Januarie, 18 Februarie en 25 Maart 2017) ontdek besoekers die sterrehemel deur die teleskope van die Orion Observasie Groep (OOG), ’n informele sterrrekundeklub van die Boland. Kaartjies kos R35 vir volwassenes en R10 vir kinders.
  • By Volmaanpieknieks (op 15 Oktober, 12 November en 15 Desember 2016 (met Kersvader), asook 13 Januarie, 11 Februarie en 11 Maart 2017) geld die Taalmonument se gewone toegangsfooi van R25 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot Volmaanpieknieks insluit.

Besoekers kan hul eie piekniekmandjie bring of vooraf een by Volksmond Koffiewinkel bestel (tel. 021 863 2800). Kaartjies is vooraf by Computicket, asook by die Taalmonument beskikbaar. Geen rook word in die Tuinteater toegelaat nie en geen stoele tydens Piekniekkonserte nie.

“Ons pieknieks is bekostigbaar en bied praguitsigte,” sê Michael Jonas, Direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. “Die Taalmonument is ’n nie-winsgewende instelling wat bedryf word as ’n agentskap van die nasionale Departement van Kuns en Kultuur. Ons piekniekreeks is ’n belangrike manier om fondse in te samel om ons projekte volhoubaar te bestuur. Piekniekgangers is ook welkom om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van ons leesprojek.”

Die Taalmonument is vanaf November tot Maart daagliks tot 20:00 oop. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.