The Rockets Piekniekkonsert Taalmonument 2017 webwerf

‘n Musikale opstyging met The Rockets wink by die Taalmonument

Die immergewilde R&B/popgroep The Rockets tree op Saterdag 27 Januarie 2018 by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl as deel van die Tuinteater Piekniekreeks op. Een en almal word uitgenooi om hierdie vyf strelende stemme, wat musiek van die verlede tot die hede tot harmonieuse lewe bring, te beleef, en dít boonop ten bate van ’n geletterdheidsprojek vir kinders.

Die produktiewe, SAMA-genomineerde The Rockets het al die talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie. Die liedjies van hul Afrikaanse album, waaronder ‘Namakwa Daisy’ en ‘Ek is Lief Vir Jou’, word gereeld gehoor en is uiters geliefd onder oud en jonk. Die groep het reeds die verhoog vir verskeie internasionale kunstenaars geopen en tree gereeld in onder meer Australië, die Midde-Ooste en verskeie Afrikalande op. Vir meer oor The Rockets, sien www.rockets.co.za.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument terwyl die son se laaste strale kwyn. Besoekers is welkom om vooraf die beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparkie vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die vergrote en verbeterde Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal ook te koop wees. Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Die volgende piekniekkonserte is met Riana Nel (3 Februarie), Elvis Blue (17 Februarie) en Die Heuwels Fantasties (24 Maart). Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

{Spreekwoord van die dag: ‘Soos ‘n pyl uit ‘n boog’, menende baie vinnig}