Rockets vat weer vlam by Taalmonument
ʼn Nuwe jaar met ʼn immergewilde musiekgroep gevier

Om die somer en nuwe jaar behoorlik te vier, gaan die immergewilde R&B/popgroep The Rockets weer Paarlberg bestyg om te verseker almal is vuur en vlam vir 2019. Die plek? Die pragtige Taalmonument. Die datum? Vrydag, 25 Januarie. Hul konsert is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te bring en te skenk.

Die produktiewe, SAMA-genomineerde The Rockets het al die talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie. Die liedjies van hul Afrikaanse album, waaronder ‘Namakwa Daisy’ en ‘Ek is Lief Vir Jou’, word gereeld gehoor en is uiters geliefd onder oud en jonk. Die groep het reeds die verhoog vir verskeie internasionale kunstenaars geopen en tree gereeld in onder meer Australië, die Midde-Ooste en verskeie Afrikalande op. Een en almal word dus uitgenooi om hierdie vyf strelende stemme, wat musiek van die verlede tot die hede tot harmonieuse lewe bring, te beleef.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument. Besoekers is welkom om vooraf die ikoniese monument en beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparke vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die verruklike Volksmond restaurant op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, pizza, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar (ʼn pendeldiens vervoer besoekers na die hek) en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir meer inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die laaste konserte by die Tuinteater hierdie seisoen sluit in ADAM, Early B & Irene-Louise van Wyk (16 Februarie), Leah & Karin Kortje (23 Februarie) en die Taalmonument Koorfees (14 Maart). Meer oor The Rockets by www.rockets.co.za