Riana Nel Piekniekkonsert Taalmonument 2017

Riana wag vir jou onder die sterre by die Taalmonument

“Ek staan onder die aand se sterre. Vrede vind ek in die stille nag. Dit is waar ek vir jou wag.” Só sing die gewilde sanger, liedjieskrywer en gebore Namibiër Riana Nel wat op ‘n heerlike someraand op die piekniek-planke by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl gaan optree. Op Saterdag, 3 Februarie 2018, wil sy almal omvou met haar musiek as deel van die monument se Konsertreeks – waaroor inwoners, buitelanders en toeriste mal is – en wat ten bate van die ‘Laat ons Lees!’ geletterheidsprojek vir kinders is.

Riana se borrelende persoonlikheid en eindelose talent is ‘n wenkombinasie wat tot diep binne in jou siel kruip met haar lirieke en onvergeetlike vertonings.  Haar albums ‘Oopmond’ , ‘The Cure’, ‘Someone with Skin’ , ‘Collection Set’, ‘Die Moeite Werd’, ‘Die Regte Tyd’ en ‘Jy Sal Weet’ het al talle pryse verower en multi-platinum verkope bereik; iets wat haar een van die lande se gewildste sangers maak.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument terwyl die son se laaste strelende strale kwyn. Besoekers is welkom om vooraf die beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparkie vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die vergrote en verbeterde Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie. Die volgende piekniekkonserte is met Elvis Blue (17 Februarie) en Die Heuwels Fantasties (24 Maart).

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.  Meer oor Riana by www.riananel.co.za