Beleef die liefdesmaand met beminde Divas vannie Kaap
Leah en Karin Kortje sal begeester en bekoor by Taalmonument

Die veelsydige, begaafde sangers Leah en Karin Kortje bied op Saterdag, 23 Februarie 2019, ʼn unieke vertoning by die ikoniese Taalmonument op Paarlberg wat besoekers sal bemin en begeester in die liefdesmaand. Hul konsert by die Taalmonument is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om hul harte oop te maak deur enige kinderboeke vir hierdie doel te bring en te skenk.

Leah se naam is op almal se lippe. Nie net het die rolprent ‘Susters’, waarin sy een van die hoofrolle vertolk, loketrekords gebreek nie, maar is sy ook die 2018-aanbieder van die gewilde kykNET program ‘Boer Soek ‘n Vrou’ en haar musiekloopbaan neem haar oor die hele land heen. Stel jouself ’n hoë C, klavier, ’n bietjie ligte kitaar, en funky, ongewone en totaal moderne vertolkings van die wêreld om haar voor – dit is Leah (oftewel Leani van Niekerk) in ʼn neutedop.

Karin Kortje se loopbaan het wipplank gery vandat sy in ʼn Idols-sangkompetisie geseëvier het. Ondanks verskeie persoonlike uitdagings, het sy gewilde albums uitgebring en ʼn stigting geloods wat aspirant-kunstenaars in haar plattelandse tuisdorp onderskraag. Sy word as ʼn positiewe rolmodel beskou, veral danksy haar musikale toneelstuk ‘This is my Life’ wat later as ‘Die Hele Storie’ by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer is en waarvoor sy ʼn Absa Kanna-nominasie ontvang het. Karin het ook al die verhoog met ander bekende kunstenaars gedeel en op die voorblaaie van talle tydskrifte gepryk.

Die vertoning is in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument. Besoekers is welkom om vooraf die ikoniese monument en beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparke vermaak. ʼn Pragtige sonsondergang en maanopkoms is boonop op die kaarte. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een (R300 vir twee persone, of R400 met ‘n mandjie ingesluit) vooraf by die verruklike Volksmond restaurant op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, pizza, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument beskikbaar teen R150 vir volwassenes, R140 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar (ʼn pendeldiens vervoer besoekers na die hek) en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die laaste konsert by die Tuinteater hierdie seisoen is die Taalmonument Koorfees op 15 Maart. Meer oor Leah by www.leahlive.co.za.