Joshua na die Reën Taalmonument Piekniekkonsert 2018 Klein

Joshua na die Reën vier somer by Taalmonument
Tuinteater open haar arms vir talentvolle moet-hoor-musikant

Strelend, slim en vloeiend vanuit die hart; dít is die musikale belewenis wat Joshua na die Reën op Saterdag, 1 Desember na die Taalmonument op Paarlberg bring vir die eerste somerkonsert van die nuwe seisoen. Dié hoogs talentvolle man het nie net reeds talle pryse verower nie, maar reis wyd en syd om soveel moontlik mense se harte met sy sielvolle musiek te verower. Sy konsert by die Taalmonument is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te bring en te skenk.

Joshua na die Reën (oftewel Jacques de Villiers) se kenmerkende fluweelstem is die perfekte pasmaat vir die interessante kombinasie van kontemporêre klanke en instrumente, wat met groot sorg by elke liedjie ingewerk is. Die eindresultaat is so treffend dat dit aanhangers noop om herhaaldelik na sy konserte te gaan. Vir diegene wat hom nog nie gehoor het nie, is hierdie geleentheid die perfekte kans om te verstaan waarom hy só gewild is. Hy het, buiten vir Huisgenoot Skouspel, al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen, Die Heuwels Fantasties en nog vele ander gedeel. Ghoema-musiektoekennings vir ‘Nuweling van die Jaar’ en ‘Beste Kontemporêre Manlike Kunstenaar’, asook ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir ‘Beste Nuweling’, ’n Woordfees-toekenning vir ‘Beste Solo-Kunstenaar’ en temaliedjies vir verskeie rolprente, televisieprogramme en -veldtogte, was maar net die begin van ’n suksesvolle loopbaan wat baie vinnig vlam gevat het.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument terwyl die son se laaste strale kwyn. Besoekers is welkom om vooraf die ikoniese monument en beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparke vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die verruklike Volksmond restaurant op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek  www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die ander konserte by die Tuinteater hierdie seisoen sluit in die Krismis onder die Sterre Amfi-konsert (15 Desember), Dans van die Vlamme (29 Desember), The Rockets (25 Januarie 2019), ADAM, Early B & Irene-Louise van Wyk (16 Februarie), Leah & Karin Kortje (23 Februarie) en Taalmonument Koorfees (15 Maart). Meer oor Joshua na die Reën by www.jndr.co.za.