Emo Adams Taalmonument Piekniekkonsert 2017 webwerf

Emo Adams. Piekniekkonsert. Taalmonument. Wat meer hoef mens te sê?

Die bekroonde en veelsydige vermaak-ster Emo Adams bestyg weer die Paarlberg om sy ou en nuwe aanhangers te vergas met ‘n pikante piekniekkonsert by die Afrikaanse Taalmonument op Vrydag, 8 Desember 2017. Dit vorm deel van die Konsertreeks, waaroor inwoners, buitelanders en toeriste mal is, ten bate van die ‘Laat ons Lees!’-voorleesprojek vir kinders.

Dié supergewilde akteur, sanger, aanbieder en vervaardiger het bekendheid verwerf met sy rolle in ‘District 6: The Musical’ (hy is die enigste akteur wat al die rolle vertolk het) en ‘Kat & the Kings’ asook musiekalbums soos ‘Tall, Dark & Afrikaans’, TV-reekse en sy kletsprogram, ‘Jou Show met Emo’, wat een van die gewildste programme op kykNET is. Dus moet dit nie misloop nie, want spyt kom áltyd té laat.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument terwyl die son se laaste strelende strale kwyn. Besoekers is welkom om vooraf die beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparkie vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die vergrote en verbeterde Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

{Spreekwoord van die dag: ‘’n Bek soos ‘n advokaat hê’ menende om baie goed te kan praat, welsprekend te wees}