Elvis Blue Piekniekkonsert Taalmonument 2017

Elvis en die Taalmonument

Die energieke en vrygewige sangsensasie Elvis Blue gaan besoekers aan die Afrikaanse Taalmonument op Saterdag, 17 Februarie 2018, betower tussen die groen en graniet op Paarlberg. Dié koning van konserte het al talle pryse vir sy topverkoper-albums ontvang, dus daar is g’n kans dat aanhangers en nuwe aanhangers ‘n bloutjie gaan loop nie. Boonop is dit deel van die monument se Konsertreeks – waaroor inwoners, buitelanders en toeriste gaande is – en ten bate van die ‘Laat ons Lees!’ geletterheidsprojek vir kinders; iets wat goed inskakel by Elvis se eie liefdadigheidsprojekte.

Hy bly ‘n uitsonderlike musikant danksy sy vermoë om beide Engelse en Afrikaanse musiekgenres met gemak en relevansie te oorbrug, soos te hore in sy albums wat  ‘Elvis Blue’, ‘Journey’ en ‘Afrikaans’ insluit. Met sy unieke kombinasie van charisma en egtheid is Elvis se vertonings nie net bekend vir die perfekte kombinasie van bekende oorspronklike treffers en nuwe musiek nie, maar ook vir sy komiese en dikwels lawwe vertellings wat gehore meevoer op ‘n reis wat beide persoonlik en vermaaklik is.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument terwyl die son se laaste strelende strale kwyn. Besoekers is welkom om vooraf die beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparkie vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die vergrote en verbeterde Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie. Die volgende en laaste piekniekkonsert is met Die Heuwels Fantasties (24 Maart).

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Meer oor Elvis by www.elvisblue.co.za