Die sterre gaan skyn by die Taalmonument
ADAM, Early B en Irene-Louise van Wyk beloof ʼn magiese, musikale someraand

ʼn Aand van sterbelaaide musiektalent onder die sterre wag op almal wat hul weg na die Taalmonument op Paarlberg vind wanneer ADAM, Early B en Irene-Louise van Wyk op Saterdag, 16 Februarie 2019, die someraand in ʼn magiese musikale ervaring omskep. ʼn Unieke kombinasie van pop, folk en rymklets, gekombineer met energieke verhoogpersoonlikhede, beloof ʼn onvergeetlike, vermaaklike aand. Hul konsert by die Taalmonument is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te bring en te skenk.

Irene-Louise van Wyk skop die verrigtinge om 19:30 af. Sy het nie net al saam met van die land se voorste kunstenaars opgetree nie, maar van haar treffers het ook verskeie weke bo-aan die treffersparades van talle radiostasies gekuier. Sy het haarself reeds gevestig as ’n sterk kunstenaar met wie daar rekening gehou moet word danksy haar album ‘Sjampanje’ en twee Ghoema-benoemings in 2018.

Daarna is dit die beurt van rymkletser Early B, wat in 2018 sy debuutalbum ‘Aangename Kennis’ vrygestel het waarop sy lemmetjieskerp-humor behoorlik die draak steek met als en almal. Hy het die afgelope dekade ’n gereelde gesig geword by van die land se grootste kunsfeeste en konserte, en is veral bekend om sy treffer ‘Cerebellum’ wat hom ’n Ghoema-prys in 2017 besorg het.

Om 21:00 is ADAM se beroemde drie manne – Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant – op die verhoog. Hierdie supergewilde groep het al talle pryse op sy kerfstok en al die lede het ook reeds naam gemaak as akteurs in ʼn verskeidenheid TV-programme en toneelstukke. Hul jongste album, ‘Bewe’, het in 2018 uitgekom en is sedertdien wyd geprys, veral danksy die positiewe boodskap van hoop wat die groep met onder meer die snit ‘Kalmeer’ oordra.

Die vertoning is in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument. Besoekers is welkom om vooraf die ikoniese monument en beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparke vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die verruklike Volksmond restaurant op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, pizza, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument beskikbaar teen R150 vir volwassenes, R140 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar (ʼn pendeldiens vervoer besoekers na die hek) en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die laaste konserte by die Tuinteater hierdie seisoen sluit in Leah & Karin Kortje (23 Februarie) en die Taalmonument Koorfees (15 Maart). Meer oor ADAM by www.adamband.co.za en oor Early B by www.earlybmusic.com.