Sterrekykpiekniek fokus op Taurus en sy rooi oog

Kapenaars en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die sterrebeeld van die Bul (Stier) en sy kenmerkende rooi oog – van nader leer ken tydens ʼn somerpiekniek op Paarlberg op Saterdag, 22 Februarie 2020. Dit beloof om weereens ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ʼn goeie saak.

Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die tema is ‘Ons pak die Bul by die horings’, want die fokus is noordwaarts op die sterrebeeld van die Bul met sy kenmerkende oog, die rooi reus Aldebaran. Dié rooierige ster is baie ouer as ons Son en het al sy primêre brandstofvoorraad, naamlik waterstof, opgebruik. Twee van die naaste oop sterreswerms aan die Aarde, die Pleiades en die Hiades, kom ook in die Bul voor – albei kan met die blote oog gesien word.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Dit begin om 18:00, met ʼn begeleide toer van die monument om 18:30 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ʼn mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Dit sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning van dié projek te skenk. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (wat in 45 jaar in 2020 vier), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende, en laaste, Sterrekykpiekniek is op 21 Maart 2020.