Aandwedloop Taalmonument 2018 finaal klein

Paarlse Aandwedloop samel draf-draf geld in vir kinders met outisme
Taalmonument gasheer vir geleentheid van pret, gesellig eet en ‘n bietjie sweet

Gegewe dat daar na raming jaarliks sowat 7 000 kinders met outisme in Suid-Afrika gebore word, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Boland Skool vir Outisme, een van bittermin plekke waar hierdie kinders geholpe word. Boonop is talle medaljes, kontantpryse en geluktrekkings op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Paarl Atletiekklub se jaarlikse Aandwedloop op Woensdag, 12 Desember 2018, op die beeldskone Paarlberg plaasvind. Soos altyd, kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar daar ook ’n avontuurlike speelgrond op jong kinders wag.

Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 18:40 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Die inskrywingsfooi is R25 en deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ‘n nommer. Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30; dit volg ‘n opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die inskrywingsfooi is R50 en tydelike nommers (vir diegene wat nie lede van ‘n atletiekklub is nie) is beskikbaar teen R30. In beide gevalle is stappers is ook welkom, dus daar is g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie.

Deelnemers kan op drie maniere inskryf: aanlyn vóór 5 Desember by www.entrytime.com of www.sa-active.co.za (teen R6 ekstra per inskrywing), by die Taalmonument (daagliks vanaf 08:00 tot 17:00) asook op die dag van die wedloop self tussen 17:00 en 18:15. Toegang is gratis vir ondersteuners. Maak ’n heerlike aand daarvan: bring ‘n piekniekmandjie of bestel een vooraf by Volksmond op 021 863 2800 (R300 vir twee persone en R350 met mandjie ingesluit). Dié koffiewinkel sal ook verversings en pizza te koop aanbied.

Boland Skool vir Outisme, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, is in 2010 gestig en huisves tientalle leerders van sover as Tulbagh, Stellenbosch, Saron en Wellington. Die skool se span bestaan uit onderwysers, assistente, arbeids- en spraakterapeute, ’n biokinetikus, ’n opvoedkundige sielkundige en ’n skoolbestuurder wat vas glo dat alle kinders die reg op onderwys het. Ouers kan nie altyd al hierdie dienste bekostig nie, derhalwe bied die monument hierdie geleentheid aan om te help geld insamel. Meer oor die skool by www.bolandautism.org.za.

Vir navrae oor die 10km-Aandwedloop, kontak Sybrand du Plessis op 083 770 5107, en vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die konsertreeks, volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek  www.taalmonument.co.za en   www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Die Afrikaanse Taalmonument: kultuur, natuur en plesier. Én omgee vir die gemeenskap van hier.