Aandwedloop Taalmonument 2017

Paarlse Aandwedloop samel draf-draf en lag-lag geld in vir kinders met outisme

Gegewe die reusagtige toename in gevalle van outisme onder kinders, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Boland Skool vir Outisme. Boonop is medaljes, kontantpryse en geluktrekkings op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmonument en Paarl Atletiekklub se jaarlikse Aandwedloop op Woensdag 6 Desember 2017 op die beeldskone Paarlberg plaasvind. Verder kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument.

Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 18:40 begin, is gemik op die hele gesin.  Selfs stootwaentjies is welkom! Die inskrywingsfooi is R20 en deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ‘n nommer.  Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30; dit volg ‘n opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die inskrywingsfooi is R50 en tydelike nommers (vir diegene wat nie lede van ‘n atletiekklub is nie) is beskikbaar teen R30. In beide gevalle is stappers ook welkom, dus is daar g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie.

Deelnemers kan op drie maniere inskryf: aanlyn vóór 1 Desember by www.entrytime.com of www.sa-active.co.za (teen R6 ekstra per inskrywing), by die Taalmonument (daagliks vanaf 08:00 tot 17:00) asook op die dag van die wedloop self tussen 17:00 en 18:15. Toegang is gratis vir ondersteuners. Maak ’n heerlike aand daarvan: bring ‘n piekniekmandjie of bestel een vooraf  by Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800 (R300 vir twee persone en R400 met mandjie ingesluit). Dié pas vergrote en verbeterde koffiewinkel sal ook verversings te koop aanbied.

Boland Skool vir Outisme, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, is in 2010 gestig en huisves tientalle leerders van sover as Tulbagh, Stellenbosch, Saron en Wellington. Die skool se span bestaan uit onderwysers, assistente, arbeids- en spraakterapeute, ’n biokinetikus, ’n opvoedkundige sielkundige en ’n skoolbestuurder wat almal vas glo dat alle kinders die reg op onderwys het. Ouers kan nie altyd al hierdie dienste bekostig nie, derhalwe bied die monument hierdie geleentheid aan om te help geld insamel.

Vir navrae oor die 10km-Aandwedloop, kontak Sybrand du Plessis op 083 770 5107, en vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Jeffrey Pietersen op  021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za.