Sterrekykpiekniek, Orion en inheemse sterrebeeld-legendes op die nuwe jaar se spyskaart

Kapenaars kan hul sterre dank vir die pragtige lugruim wat in die nuwe jaar weer besoekers aan die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg tydens ‘n Sterrekykpiekniek sal bekoor. Daarom dat die vriendelike personeel een en almal uitnooi om op Saterdag, 5 Januarie 2019, ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te geniet. Boonop is ‘n pragtige sonsondergang en ‘n gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ‘n goeie saak.

Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope deel. Dit gaan nie net ‘n geleentheid wees om inheemse sterrebeeld-legendes te belig nie, maar OOG wil besoekers ook aanmoedig om ‘n inheemse naam (dalk iets in ʼn Khoisan-taal?) vir Orion te bedink. En ja, die Jagter staan letterlik in die Suidelike Halfrond op sy kop!

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers, wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Die tema is ‘Ou-raai-en is op sy kop’ en die piekniek begin om 18:00. Die begeleide toer van die monument is om 18:30 en besoekers kan van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die sterre kyk. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by die Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm klere. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word versoek om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Die toegangsprys is R40 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer sleg is. Skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae.

’n Fotografiewerkswinkel, waar deelnemers sal leer om stersirkels (“star trails”) af te neem, word op Saterdag, 2 Februarie 2019, by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl aangebied. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Sterrekykpieknieks is op 9 Februarie en 9 Maart.

Die Afrikaanse Taalmonument: kultuur, natuur en plesier. Én omgee vir die gemeenskap van hier.