MEDIAVRYSTELLING

13 Oktober 2015

Opvoeders vereer met Neville Alexander-prestigetoekenning

Die wenners van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se eerste Neville Alexander-prestigetoekenning is Saterdagaand aangewys tydens die ATM se amptelike viering van hul 40ste verjaardag.

Die medewenners is Sabina Dumas, opvoeder aan New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, en die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington. Die Voorsitter van die Raad, prof Mashudu Mashige, het ‘n sertifikaat en ‘n tjek vir R10 000 aan Dumas en aan prof Johan Anker, assistentdekaan van onderwys aan KSUT Wellington, oorhandig.

Alexander (1936-2012) was ‘n bekroonde linguis, opvoedkundige en akademikus, wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

Volgens Jack Louw, Direkteur van die ATM, is die publiek genooi om geskikte kandidate te nomineer as ’n inisiatief om Afrikaans op die voorgrond te bring.

“Die toekenning is vir  ʼn individu of instelling wat op enige gebied van Afrikaans ‘n beduidende bydrae op voetsoolvlak maak,” sê Louw.

“Die ATM wil hierdie toekenning graag ‘n jaarlikse geleentheid maak. Ons beroep ons graag op maatskappye en individue wat Afrikaans goedgesind is om hierdie inisiatief van die ATM te ondersteun deur ‘n finansiële bydrae te maak.”