Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi die publiek om geskikte kandidate te benoem vir hul tweede jaarlikse Neville Alexander-prestigeeerbewys.

Alexander (1936-2012) was ‘n bekroonde taalkundige, opvoedkundige en akademikus, wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is hierdie eerbewys ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder.

“Die eerbewys sal toegeken word aan  ʼn geskikte kandidaat of instelling wat ʼn beduidende bydrae op grondvlak gelewer het op enige gebied van Afrikaans as moedertaal of voorstander van veeltaligheid,” sê Jonas.

Die medewenners van die eerste prestige-eerbewys, in 2015, was die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington, en Sabina Dumas, opvoeder aan New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl.

Die wenner sal op Erfenisdag, 24 September 2016, tydens die ATM se jaarlikse Neville Alexander-gesprek deur die Voorsitter van die Raad aangekondig word. Die wenner ontvang ’n sertifikaat en prysgeld van R20 000 vir ‘n relevante taalprojek.

‘n Benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar of kan hier afgelaai word. Benoemings moet die ATM voor of op 14 Augustus 2016 bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos admin@taalmuseum.co.za. Vir navrae, skakel 021 863 0543/4809.