Taalmonument vier 45ste jaar met Bybel in Kaaps
Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat die volgende woorde na ons almal se harte gaan!
En maak vir ons lig moet hierie woorde
Soos moet kerse.
– Adam Small in ‘Kȏ lat ons sing’
Ter ere van die feit dat Afrikaans – en eindelik ook die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) wat 45 jaar in 2020 vier – deels te danke is aan pogings om die Bybel in hierdie taal te vertaal, is die instelling verheug om kreatiewe kragte met die onafhanklike joernaal LitNet te snoer om nuwe vertalings van die Bybel in Kaaps in die Groen Galery uit te stal. Weens die koronavirus-pandemie is dit vir eers slegs gratis via die kuberruim by www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ beskikbaar, maar sodra moontlik, sal dit ook in die buitelug te sien wees.
Volgens Michael Jonas, ATM direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons gee graag aan opkomende skrywers, musikante en digters die kans om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane,” sê hy. “Hoewel ons tans tydelik weens Covid-19 gesluit is, beskou ons dit as ʼn gulde geleentheid om ons web- en sosiale mediavoetspoor onder meer mense bekend en bemind te maak.”
Olivia M Coetzee, wat gereeld in Kaaps vir LitNet skryf en dele van die Bybel in Kaaps vertaal, was een van die beoordelaars van ‘n kompetisie waarin deelnemers Genesis 1:1-8 kon vertaal. Die vertalers het onder andere Christo Meyer, Hein Kleinbooi, Handry Kortje, Ilne Fourie, Ivor Swartz en Kyle Deon Manuel ingesluit.
Hierdie spesifiek teks is reeds in 1893 in die Paarl in Afrikaans vertaal as deel van die destyds omstrede projek om Afrikaans tot ʼn kanseltaal te verhef. Die eerste openbare pleidooi vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans was ‘n brief deur dr Arnoldus Pannevis wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan verskyn het. Uit korrespondensie wat gevolg het, het dit egter geblyk dat die meeste mense sterk daarteen gekant was. In reaksie daarop is die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig in die huis waarin die Taalmuseum nou gevestig is. Dieselfde teks is mettertyd in die Afrikaanse bybelvertalings van onder meer 1933, 1953, 1983 asook Die Lewende Vertaling van 2011 aangepas – voorbeelde hiervan asook die 1893-vertaling verskyn in die uitstalling. Dele van die Koran is reeds in die mid-1850’s in Afrikaans vertaal met die gebruik van Jawies, die Arabiese skrif soos aangepas vir die taal.
Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.
Sien www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ vir die Kaaps- en vorige uitstallings. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is ook heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die talle gewilde geleenthede en afslagpryse, ook rakende die ATM se 45-jarige feesvieringe, besoek www.taalmonument.co.za of hul Facebookblad. Kontak die ATM op 021 863 0543/ 872 3441 of stuur ʼn e-pos na admin@taalmonument.co.za. Meer oor LitNet se Bybel in Kaaps-projek te siene by www.litnet.co.za/bybel-kaaps-kompetisie-wenners-aangekondig/