Die Afrikaanse Taalmuseum

DIE AFRIKAANSE TAALMUSEUM

Die oorspronklike doel van die Afrikaanse Taalmuseum was om dié mense te vereer wat so ‘n belangrike rol gespeel het in die proses om Afrikaans as ‘n amptelike skryf- en leestaal erken te kry. Een belangrike groep mense in hierdie verband was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat op die 14de Augustus 1875 in die huis van Gideon Malherbe, vandag die Afrikaanse Taalmuseum, gestig is. Die lewensomstandighede en tydsgees van hierdie mense word so getrou moontlik voorgestel sodat besoekers ‘n beeld kan vorm van die pad wat hulle in hul taak moes loop en die struikelblokke wat hulle moes oorkom. Verder is dit die doel van die Museum om die ontwikkeling van die taal, sy variante en eietydse uitinge weer te gee. Sodoende word dit aan die publiek tuisgebring dat dit ‘n lewendige, groeiende taal is wat deurgaans in ‘n toestand van ontwikkeling en aanpassing by die eietydse wêreld is.

Die huis is omstreeks 1860 in die Georgiaanse styl deur Gideon Malherbe, ‘n welgestelde sakeman en wynboer van die Paarl, gebou. Die grondvloer is tot ‘n groot mate gerestoureer en ingerig soos dit in 1875 was, terwyl die boonste verdieping benut word om die ontwikkeling van Afrikaans en sy verskillende uitinge voor te stel. Die vertrekke op die onderste vloer wat ingerig is soos in die oorspronklike huis, is die voorportaal, eetkamer, sitkamer en die Malherbes se slaapkamer. Die GRA se drukpers is weer terug in die kinderkamer waar dit aanvanklik gestaan het. Daar is so ver moontlik probeer om die huis met die oorspronklike meubels, ornamente en gebruiksvoorwerpe in te rig. Verder is van reproduksies gebruik gemaak, soos byvoorbeeld in die geval van die muurpapier, die stoele om die eetkamertafel en die bank in dieselfde vertrek. Heelwat van die voorwerpe is deur familielede en ander lede van die publiek geskenk of beskikbaar gestel.

Die Grondvloer

Voorportaal

Die muurpapier wat hier en elders in die huis te sien is, is ‘n reproduksie van die papier wat oorspronklik teen die mure geplak was. Dit was effe ongewoon om ‘n hele huis met dieselfde papier uit te plak, maar die Malherbes kon dit bekostig. Die ontwerp van die papier met die groot, swaar motiewe is tipies van die tydperk.

Gideon Malherbe het in 1892 ‘n jagekspedisie saam met SJ du Toit na die Zimbabwe-ruïnes onderneem. Tydens hierdie tog het hy die, nou opgestopte, likkewaan wat bo die eetkamerdeur in die voorportaal hang, buitgemaak. Dit het daar gehang tot en met sy dood waarna sy seun, Gideon J, dit gekry het. Die likkewaan wat tans hier hang, is nie die oorspronklike nie, maar ‘n soortgelyke voorbeeld wat deur die destydse Kaapse Provinsiale Departement vir Natuurbewaring geskenk is. Die oorspronklike is deur Gideon J en sy dogter Martha verbrand omdat dit later te veel goggas gelok het.

Sitkamer

Die meeste van die meubels en voorwerpe wat in hierdie vertrek uitgestal word, is oorspronklik in die huis gebruik. Baie daarvan is geskenk of op bruikleen verskaf deur kinders en kleinkinders van Gideon Malherbe. Toe die museum in 1975 ingerig is, het drie van Malherbe se seuns steeds geleef. Hulle kon aan die restoureerders presies verduidelik hoe die verskillende vertrekke ingerig was toe hul vader nog geleef het. Die portret teen die muur is van dominee GWA van der Lingen, die vader van Malherbe se eerste vrou, Nancy. Dit was ook hy wat in 1858 die Nederlandse privaatskool De Gimnasium in die Paarl gestig het om voorsiening te maak vir Afrikaanssprekende kinders in die Paarl.

Perskamer

Hierdie vertrek was oorspronklik die kinderkamer en bedoel vir klein kinders. Die eerste drukpers van die GRA was ‘n Albion hand-drukpers wat in 1869 deur Frederick Ullmer van Londen gebou is volgens Patent 2607. Die Genootskappers het dit in 1876 van die firma Smuts & Hofmeyr in Kaapstad wat De Zuid-Afrikaan uitgegee het, gekoop. Dit het vir ‘n tyd lank hier gestaan saam met al sy toebehore: die proefpers, skroefbindpers en boekbindtoestel. Gideon Malherbe se oudste seun, Petrus Jacobus, was die drukker. Hy het hierdie werk begin doen toe hy maar 18 jaar oud was en moes homself en sy helpers leer hoe om die pers en sy toebehore te gebruik. Die portret wat in die vertrek hang, is van Petrus Jacobus en sy vrou, Christina Petronella Elizabeth de Ville. Die eerste redakteur van Die Afrikaanse Patriot (van 1876 tot 1878) was DF du Toit. Hy het ook onder die skuilnaam Oom Lokomotief geskryf. Die stoel wat by die pers staan, was die einste een waarop hy gesit het terwyl hy met sy werk besig was en is “Oom Lokomotief se stoel” genoem.

Gideon Malherbe se slaapkamer

Van die stukke in hierdie vertrek is oorspronklik elders in die huis gebruik, maar die bed en kleiner klerekas het wel hier gestaan in Malherbe se tyd. Eersgenoemde is van rooshout gemaak en was aanvanklik ‘n hemelbed, maar die style is later deur die familie afgesaag. Die groot klerekas het voorheen aan Bertie en Gertie le Roux van die Paarl behoort en die wiegie was die eiendom van die Von Wiellighs van Hendrina. Albei Malherbe se vroue is in hierdie bed oorlede. Nancy, gebore Van der Lingen, is op 27 Januarie 1866 dood en Dorothea, gebore Jaspers, het op 28 September 1897 gesterf. Malherbe self is op 10 September 1921 in dieselfde bed in hierdie vertrek oorlede.

Eetkamer

Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 in hierdie vertrek gestig. Baie van die meubelstukke is die oorspronklikes, terwyl die stoele en bank reproduksies van die oorspronklike stukke is. Teen die mure hang ses waterverfskilderye wat die gelykenis van die verlore seun uitbeeld. Hulle is in ongeveer 1810 deur Gideon Malherbe se moeder, Leonora Elizabeth du Toit, geskilder. Iets wat opvallend is van die skilderye, is dat die Bybelse verhaal uitgebeeld is in die stylidioom van die begin van die 1800s (die kleredrag en argitektuur van daardie tyd) en nie die stylidiome van die Bybelse tye nie. Die skilderye met die dubbel tonele is ook deur haar gemaak. Haar Hollandse leermeester het vir haar afdrukke en etse van landskappe en dorpstonele gegee wat sy dan moes nateken en haar eie figure inverf om ‘n verhaal te vertel. Blykbaar het hy ‘n hele paar jong meisies in die distrik só geleer skilder en teken. By die stoepdeur staan ‘n paar klompe van Malherbe wat hy gebruik het om in sy wingerde te loop. Die wingerde het destyds tot aan die Bergrivier gestrek. ‘n Portret van die bekende Voortrekker Sarel Cilliers het teen die oostelike muur gehang, maar die huidige een is ‘n reproduksie. Die horlosie teen die muur en leestafel by die venster is van die oorspronklike meubelstukke in die huis. Malherbe het dikwels by die tafel gesit en lees in die natuurlike lig wat deur die venster val.