Taalmonument vier taal en musiek wat rotsvas in Afrika gewortel is

Die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazztradisie is die strelende fokus van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se soel sonsak-piekniek op Saterdag, 21 November 2020. Net soos die ATM haar 45ste jaar met die slagspreuk “Rotsvas in Afrika” vier, sal plaaslike jazzsterre hulde bring aan hierdie internasionale musiekstyl wat in die vasteland en haar mense gewortel is. Die Chadleigh Gowar-trio, met Anathi Mobo en Jo Kunnuji, beloof om die gehoor op ‘n musikale reis te neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.

Dit sal ‘n viering van onder meer plaaslike musiek wees met Anathi wat die legendariese treffers van Miriam Makeba, Brenda Fassie, Yvonne Chaka Chaka, Lira, Thandiswa Mazwai, Judith Sephuma en Mafikizolo sing, terwyl die wonderlike trompetter Jo reg aan die musiek van Hugh Masekela sal laat geskied. Chadleigh sal ook hul baskitaar-helde, Sipho Gumede en die lewende legende Sammy Webber, huldig. Die res van die talentvolle orkes bestaan ​​uit Brynne Bailey op die klawerbord en Damian Kamineth op die tromme, terwyl die Paarlse pianis en komponis Marco Mentoor & Band ook ‘n groot bydrae gaan lewer. Die aand sal klassieke afro-jazz-items insluit wat jou die hele nag op die been sal hou, asook ‘n paar pragtige liedjies wat jou hart met ‘n glimlag sal laat.

Chadleigh – wat onlangs ‘n Standard Bank Ovasie-toekenning op die Makhanda Nasionale Kunstefees verower het – het al met kunstenaars soos Ernie Smith, Kani Naidoo, Les Javan, Ramon Alexander en Simangele Mashazi gespeel en die baskitaar opgeneem vir die albums van Dumisani, Stellenbosch Libertaskoor en Seuns van Sion, om enkeles te noem.

Jo het ‘n doktorsgraad in etnomusikologie en is ‘n postdoktorale genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Hy kombineer onderrig, navorsing en uitvoering in sy verkenning van Afrika-musiek. Sy groep, The Jo Kunnuji Experiment, is deur die Wes-Afrikaanse Ogu-musiek geïnspireer en meng gewilde jazz en inheemse Afrika-elemente om musikale sintese te skep.

Op 17-jarige ouderdom was Anathi die hoofsanger van Hoërskool Groote Schuur se jazzorkes wat op verskillende plekke in Kaapstad en omstreke opgetree het. Tans is sy die hoofsanger van die Little Giants Big-orkes – wat onder meer by die Tietiesbaai Jazz on the Rocks sowel as Jazzathon opgetree het – terwyl sy haar BA Musiek-graad in Jazz Vokale Studies en Uitvoering aan die UK voltooi.

Die Paarlse legende Marco is gereeld by die Taalmonument te siene en het al saam met onder andere Jonathan Butler, dr Victor & the Rasta Rebels, Elvis Blue en Jimmy Dludlu opgetree. Hierdie keer is dit hy en sy talentvolle orkes wat besoekers beïndruk met hul wonderlike uitvoering.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies mee te bring of een vooraf te bestel by die Oppi Berg Mobile Café op 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier). Die kiosk sal ook oop wees vir ander eet- en drinkgoed. Trek warm aan en bring ‘n flits asook ‘n masker saam. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is slegs R80 per volwassene en R40 vir kinders, en die vertoning begin om 18:30. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self vanaf 17:00. Jaarpermitte (tans teen 20%-afslag) is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (en hul 45ste verjaarsdagvieringe in 2020), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.