Taalmuseum Moedertaaldag 2016

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied op Saterdag 20 Februarie 2016 ’n spesiale program aan ter viering van Internasionale Moedertaaldag. Dié dag word jaarliks op of rondom 21 Februarie wêreldwyd gevier. Dit het ten doel om veeltaligheid te bevorder en groter begrip en verdraagsaamheid jeens verskillende taal- en kultuurtradisies teweeg te bring.

Die plaaslike dramagroep, Kaleidoskoop, wat in 2013 ontstaan het, bring hul produksie “Ons Komvandaan” na die verhoog. Dit is reeds by die Tuin van Digters in Wellington, Het Gesticht Museum en as deel van die Afrikaanse Taalmonument se 40ste verjaarsdagvieringe opgevoer. Die produksie is ook vanjaar op die KKNK-program.

Drie Afrikaanse rymkletsers van die Paarl – Curtley Jones, Anwill Valentine en Romano Mentoor – tree ook op.

Die program vind van 10:00 tot 12:00 in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum (Pastorielaan 11) plaas. Bywoning is gratis en sluit ligte verversings in. Daar is beperkte sitplek beskikbaar; dus is besprekings voor 12 Februarie 2016 noodsaaklik. Bespreek by 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.