Gewilde Haarhoff bied gevorderde fotografie by Taalmonument aan

Fotografie-afrigter Peter Haarhoff en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op Paarlberg bied nie net ʼn gevorderde fotografiekursus op Vrydag, 8 Oktober 2021, aan nie; deelnemers het boonop die kans om hul beste foto’s professioneel uitgedruk en in die monument se openbare Groen Galery te sien.

Die kursus is geskik vir persone wat reeds ’n beginner fotografiekursus voltooi het of ‘n goeie begrip het van sluiterspoed, diafragma en ISO-instellings, en gemaklik voel om foto’s te neem in die handmatige modus, maar voel dat hulle hul fotografie na die volgende vlak wil neem. Deelnemers sal leer hoe om foto’s te neem wat uitstaan deur meer komplekse kamerategnieke te ondersoek en nuwe denke op die fotografiese proses toe te pas. Hulle sal ook die balans tussen die tegniese en skeppende aspekte van fotografie verfyn tydens hierdie aangename en praktiese, tweetalige kursus.

Teorie vind in die klaskamer plaas waarna almal gaan oefen hoe om fantastiese foto’s van die mens, natuur en struktuur by die skilderagtige monument te neem. Die volgende aspekte sal belig word:

Kamerafunksies en instellings
Verstaan ​​lig, blootstelling en histogram beter
Skeppende gebruik van sluiterspoed soos beeldrol, vervaging en lang blootstelling
Meervoudige blootstellings
Hiperfokaal- en agterknoppie-fokus
Stadige flits- en hoëspoed-sinchronisasie, en gebruik van ander flitsligte
Neem professionele portretfoto’s asook produk- en stillewe-foto’s
Verbeter natuurlewe-fotografie, veral van voëls
Makro- en nabyfotografie
Leer hoe om sterre en die Melkweg te fotografeer

Die kursus is vanaf 09:00 tot 16:00 en kos slegs R500 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument asook koffie/tee, soetgoed en ʼn heerlike middagete insluit.

Deelnemers moet hul eie DSLR-kamera of enige kamera met handmatige beheer (manual control) bring – geen selfoonkameras nie. Plekke is beperk en Covid-19-protokolle geld, dus bespreek asseblief vroegtydig by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker. Meer oor Peter Haarhoff by www.flickr.com/people/peterhaarhoff/ en www.capephotocompany.com

Naas opwindende musiek- en ander geleenthede, bied die ATM jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede fokus. Voorstelle vir bykomende werkswinkels word verwelkom. Vir meer inligting oor hierdie en ander geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18.