Taalmuseum_Ommietafel2016_Web

Hoekom sit jy jou kind in ‘n Engelse skool? Wat maak jy as daar nie ‘n goeie Afrikaanse skool in jou omgewing is nie? Hoe was dit vir jou as Afrikaanse kind in ‘n Engelse skool?

Dís die vrae wat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en die Vriende van Afrikaans (VVA) tydens hul tweede Ommietafel-gesprek op 12 Augustus 2016 wil beantwoord – aan die hand van mense se persoonlike ervarings. Almal word dus uitgenooi om te kom deelneem en hul ervaring van hierdie moeilike saak te deel rondom die tema: In watter taal maak ek my kind groot?

‘n Paneel bestaande uit dr Danny Titus (Uitvoerende Direkteur: Kultuur by die ATKV), Izak de Vries (joernalis en pa), Liezel van Beek (sakevrou) en Sabina Dumas (opvoeder) sal die gesprek inlei. Sedick Crombie, ‘n ervare mediator, is die gesprekleier.

Volgens Amanda de Stadler, Bestuurder van die VVA, word die Ommietafel-gesprek jaarliks ter viering van Taaldag aangebied: “Ons herdenk hiermee die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875. Die GRA het ‘n belangrike rol gespeel om Afrikaans as lees- en skryftaal te vestig en het die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1876 gepubliseer. Gaste word daarom aangemoedig om ‘n kinderboek, nuut of tweedehands, saam te bring vir die VVA se Boektrommelprojek en die ATM se leesprojek, Laat ons Lees! Kom geniet ook ‘n lekker bordjie sop en praat jou hart uit (of uit jou hart uit)!”

Michael Jonas, Direkteur van die ATM, sê die agt stigterslede van die GRA is vir almal ‘n voorbeeld oor hoe gewone mense ‘n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal: “Afrikaans verkeer vandag weer onder druk, maar dit bly vir baie mense hul enigste vorm van kommunikasie. Die ATM wil graag deel vorm van debatvoering oor brandpunte in ons taalgemeenskap.”

Die funksie begin om 19:00 in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan. Bywoning is gratis, maar plek is beperk. Bespreek by Amira Clayton by 021 863 0543/2 of kommunikasie@taalmuseum.co.za of by Chareldine van der Merwe by 021 880 1761 of chareldinev@vva.atkv.org.za.