Die Raad en Bestuur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het kennis geneem van die ongelukkigheid by sommiges oor die toegangsfooi vir mense wat slegs die Volksmond Koffiewinkel en nie die Afrikaanse Taalmonument wil besoek nie. Ons waardeer die opmerkings en het dringend na ʼn oplossing gekyk wat meeste tevrede sal stel.

Op die Raadsvergadering van 21 Junie 2019 is derhalwe besluit om ʼn R10-toegangsfooi vir besoekers aan Volksmond Koffiewinkel met onmiddellike effek in te stel. Hierdie toegewing is op voorwaarde dat koffiewinkel-besoekers vooraf op 021 863 2800 bespreek het. Voornemende besoekers moet dus op die besprekingslys by die hoofhek verskyn om toegang te verseker. ʼn Verdere toegewing is dat besoekers wat in besit is van ʼn geldige Drakenstein biblioteekkaart, nou nie meer net van Maandae tot Vrydae teen R10 per volwassene toegang tot die Taalmuseum en Taalmonument sal verkry nie, maar ook op Saterdae en Sondae. Dit, asook die ander afslagprys, geld vanaf 1 Julie 2019 tot minstens 31 Maart 2020. Alle toegangsgelde word gebruik vir die onderhoud van die monument en koffiewinkel se infrastruktuur en tuine.

Ons wil besoekers, spesifiek Drakenstein-inwoners, aan ons baie bekostigbare jaarpermitte vir gesinne (R220 per gesin van vier, R120 per individu) asook ander afslagpryse by www.taalmuseum.co.za/taalmonument-besoekersinligting herinner; só kan mens die monument en koffiewinkel elke dag gratis besoek. Ons bedank almal vir hul volgehoue ondersteuning van hierdie ikoniese kleinood en sien daarna uit om julle te verwelkom.
– Die direkteur, Afrikaanse Taalmuseum en -monument