Veeltalige toneelreis op Taaldag
Taaldag is op 12 Augustus 2010 deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument gevier met ʼn spesiale opvoedkundige program vir graad 8-leerders.

Sowat 250 leerders van die sekondêre skole Groendal, De Kruine, Hexvallei en Wesbank het die Toringkerksaal skuins oorkant die museum volgepak. Die drie uur lange program het bestaan uit ʼn kort inleiding oor die doel van Taaldag en die diversiteit van Afrikaans, gevolg deur ʼn veeltalige toneelaanbieding.
Studente van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement het die leerders op ʼn interaktiewe toneelreis geneem waardeur hulle Britse imperialisme, die verengelsingsbeleid en die gevolge wat dit op die plaaslike inwoners gehad het, eerstehands kon ervaar. Opvoeders en belangstellende ouers het ook die geleentheid bygewoon.
Vir meer inligting oor die Taalmuseum se opvoedkundige programme, kontak Catherine Snel by die Taalmuseum by tel. 021 872 3441 of
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
.
- Taaldag word jaarliks om en by 14 Augustus, die stigtingsdag van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), gevier. Die doel van Taaldag is om die mense te vereer wat so ’n belangrike rol gespeel het om Afrikaans as ’n amptelike skryf- en leestaal erken te kry. Verder poog die dag ook om die diversiteit van Afrikaans uit te beeld in sy hedendaagse konteks.




