Nuwe oriëntasiesentrum vir Taalmonument

MEDIAVRYSTELLING
Donderdag 4 April 2011
Geen embargo
Bouwerk vorder goed aan 'n nuwe oriëntasiesentrum by die Taalmonument wat volgende jaar sy deure open.
“Die sentrum sal ‘n groot behoefte vul om besoekers beter te oriënteer”, sê Jack Louw, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument. “Ons grootste behoefte is ‘n uitstalarea waar besoekers die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans op ‘n interaktiewe wyse kan ontdek deur middel van oudiovisuele uitstallings. ‘n Model van die Taalmonument wat deur die argitek Jan van Wijk gebou is, sal ook hier uitgestal word.”
Die sentrum sal kantore insluit vir personeellede wat sedert die ontstaan van die monument in ‘n Wendy-huis op die terrein en by die Taalmuseum in die dorp gehuisves is. Daar sal ook ‘n lesinglokaal wees wat vir opvoedkundige programme en klein konferensies benut sal word.
Die gebou word opgerig deur die Departement van Openbare Werke en is gefinansier deur die Departement van Kuns en Kultuur. Die koste van die projek behels R8.5 miljoen, wat opgraderings aan die Amfiteater insluit.
Die totale vloerspasie van die gebou is 283 m² en dit beslaan drie vlakke omdat dit teen ‘n skuinste gebou word. Daar word ‘n spesiale platform aan die kant van die gebou opgerig vanwaar besoekers ‘n praguitsig oor die Paarl sal geniet. ‘n Paadjie sal vanaf die gebou na die monument lei en sal toeganklik wees vir rolstoele.
Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha by
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

