Taalmuseum stel leeskamer bekend
MEDIAVRYSTELLING
Maandag 6 Junie 2011
Geen embargo
Navorsers kan voortaan van ‘n spesiaal-ingerigte leeskamer in die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl gebruik maak. Dié nuwe fasiliteit is deel van die museum se planne om hul argief meer toeganklik te maak en ’n navorsingsentrum op die been te bring.
“Een van die doelwitte van dié navorsingsentrum is om ’n netwerk te vestig tussen alle instellings wat bronne oor die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans besit,” sê Annemarie van Zyl, die museumnavorser.
“Ons het verlede jaar ’n samewerkingsooreenkoms met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie Biblioteke (CPUT: Biblioteke) gesluit waardeur ’n versameling van sowat 230 waardevolle Africana-boeke reeds ’n nuwe tuiste by die museum gevind het.”
Van Zyl is tans besig om die museum se boeke en dokumente in ’n nuwe katalogus op te neem wat uiteindelik aanlyn beskikbaar sal wees. Dié boekery is gebou rondom vier belangrike versamelings van vroeë Afrikaanse boeke, naamlik die versamelings van die bekende taalkundiges proff PJ Nienaber en DJ Kotzé, FCL Bosman (bekende in drama- en toneelkringe) en RFM Immelman (bekende voormalige bibliotekaris van die Universiteit van Kaapstad). Die materiaal is meestal verkry deur die bemiddeling van proff Nienaber en Kotzé.
“Onder die boekery van prof Nienaber is daar baie handgeskrewe dokumente wat met die geboorte van ons taal gemoeid is, bv. uitgebreide korrespondensie in verband met die Bybelvertaling,“ het Van Zyl gesê.
“Verder het ons die boekversameling van Arnoldus Pannevis, wat deur baie as die vader van Afrikaans beskou word.”
Van Zyl het gesê daar is vroeg reeds besef dat om die geskiedenis rondom die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te versamel, nie die volle verhaal van die ontwikkeling van Afrikaans vertel nie, aangesien Moslem-kinders in die Kaap alreeds in die vroeë 1800's hul godsdiensoefeninge in Afrikaans in Arabiese skrif geskryf het.
“Ons het dus moeite gedoen om daaroor literatuur te versamel en beskik ook oor afskrifte van kinders se koples-boeke.”
Die tarief vir navorsing in die leeskamer is R30 vir 'n halwe dag en R50 vir 'n hele dag. Die museumnavorser bied ook 'n professionele navorsingsdiens aan kliënte, teen ʼn uurlikse tarief. Die leeskamer is ook te huur as ‘n lokaal vir klein vergaderings en lesings. Belangstellendes moet vooraf bespreek by Annemarie van Zyl by tel. 021 8723441 of
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Tariewe vir navorsings- en biblioteekdienste
Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha/Amira Clayton by
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

