Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Taalmuseum loods vrouebemagtigingsprojek in samewerking met Dorkas (21.11.11)

Taalmuseum loods vrouebemagtigingsprojek in samewerking met Dorkas

MEDIAVRYSTELLING
Dinsdag 21 November 2011
Geen embargo

Die aktiwiteite van die Dorkas-vroueklub in die Paarl en Wellington het onlangs ‘n hupstoot gekry met die sluit van ‘n samewerkingsooreenkoms met die Afrikaanse Taalmuseum en –monument. Dit behels ondersteuning van die klub se handwerkprojekte en sopkombuis; borgskap van busvervoer om die Taalmuseum en –monument te besoek, en ‘n kompetisie om Afrikaanse vroue van Drakenstein te vereer.

‘n Naaldwerkmasjien, materiaal en materiaalverf is op 9 Augustus aan die Dorkas-vroueklub oorhandig tydens hulle jaarlike Vrouedagfunksie in die Gemeenskapsaal. Van die materiaal sal aangewend word vir ‘n projek om sogenaamde “hot boxes” te maak wat kragbesparing en die maak van ekonomiese disse aanmoedig. Dié projek is moontlik gemaak deur ‘n borgskap wat vroeër vanjaar van die voormalige burgemeester ontvang is vir ‘n vrouedagprojek in Paarl-Oos.

Die Taalmuseum se Borg-’n-bus-projek, ondersteun deur die nasionale Departement van Kuns en Kultuur, het oor die afgelope ses jaar vervoer vir meer as 6 000 besoekende leerders geborg. Dié projek word nou uitgebrei om aan vroue van die Drakenstein-gemeenskap in samewerking met die Dorkas-vroueklub die geleentheid te bied om begeleide toere by die museum en piekniekgeleenthede by die monument by te woon. Sodoende kon 60 vroue en kinders reeds op Sondag 4 Desemberdie Taalmonument se Kersliedere by Kerslig-konsert bywoon.  

Die wenners van die Afrikaanse Vroue van die Jaar-kompetisie is op Sondag 20 November tydens die Busy Bee Damesklub se "High Tea" aangekondig, waar sertifikate aan die finaliste oorhandig is. Enigeen kon vroue van Drakenstein nomineer in drie kategorieë, naamlik opvoedkunde, gemeenskapswerk en entrepreneurskap.

Die finaliste was Gwen Tole (gemeenskapswerk), Rietha Kruger (gemeenskapswerk), Liezel Joseph (opvoedkunde), Jean Floors (gemeenskapswerk) en Olvin Roman (opvoedkunde). Geen nominasies is ontvang in die kategorie entrepreneurskap nie. Die kategoriewenners, Rietha Kruger en Olvin Roman, word getrakteer op ‘n uitstappie na die Taalmonument.
 
Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha/Amira Clayton by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien   of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441