Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Taalmuseum en –monument: terugblik en vooruitskouing (31.03.11)

Taalmuseum en –monument: terugblik en vooruitskouing

MEDIAVRYSTELLING
31 Maart 2011
Geen embargo

Die Afrikaanse Taalmuseum en –monument (ATM) het oor die afgelope jaar verskeie hoogtepunte beleef. ’n Uitstaande mylpaal was die viering van die instelling se 35-jarige bestaansjaar in Oktober 2010, wat herdenk is met ‘n drie maande lange program van spesiale aktiwiteite.

Een van die instelling se belangrikste doelwitte is om ons infrastruktuur, fasiliteite en dienste uit te brei en om sodoende ons ongeveer 1 000 vierkante meter vloerspasie en 100 hektaar grondgebied beter te benut. Die Taalmonument is reeds ‘n gewilde bestemming vir handelsfotografie en kommersiële verfilming, én toenemend as venue vir troues en pieknieks. Ons begin binnekort met die uitleg van ‘n staproete en beplan ook om ons “downhill”-bergfietsbane op te gradeer. ’n Groot aanwins is die bou van die nuwe interpretasiesentrum wat later vanjaar voltooi sal wees. Dit sal voorsien in die groot behoefte wat bestaan om besoekers aan die monument te oriënteer oor die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans.

Die ATM is dankbaar teenoor die nasionale Departement van Kuns en Kultuur vir die jaarlikse subsidie wat ons ontvang. Ons het oor die afgelope vyf jaar telkens daarin geslaag om ’n gemiddeld van meer as 20% van ons inkomste self te genereer deur borgskappe en die aanbied van openbare programme soos bemarkings-, opvoedkundige en navorsingsinisiatiewe. Ons verleen graag erkenning aan ons donateurs, waaronder Drakenstein Munisipaliteit, Het Jan Marais Nationale Fonds en die Dr Marie Luttig Trust.

Ons gereelde kulturele en ander geleenthede, soos ons baie gewilde volmaanpieknieks, sterrekykaande en Ommietafel met stories, is oor die afgelope jaar aansienlik uitgebrei met die aanbied van kreatiewe skryfsessies, piekniekkonserte, boekherstelwerkkursusse en ‘n jaarlikse pretstap ten bate van Huis Andrew Murray. Die ATM het ook vir die derde agtereenvolgende jaar in samewerking met Paarl Museum ‘n Museum-en-Erfenisekspo met twintig deelnemers in Paarl Mall aangebied.

‘n Nuwe reeks ATM-produkte is gedurende die jaar bekendgestel en is te koop by Oom Gideon se Winkel by die museum en by Volksmond Koffie- en Kuriowinkel by die monument. Ons is tans besig met die finale afronding van die opgedateerde Taalmonument inligtingsboekie, die eerste in ‘n nuwe reeks boekies.

Meer as 2 000 leerders het oor die afgelope jaar opvoedkundige programme bygewoon. Dié programme is kurrikulumgebaseerd en word aangepas volgens opvoeders se behoeftes. Ons Borg-‘n-bus-projek het busvervoer geborg vir ‘n totaal van 741 leerders wat ons andersins nie sou kon besoek nie.

’n Opwindende vooruitsig is ons nuwe jeugklub, Die Taaljunkies, met interessante werkwinkels wat oor naweke en gedurende skoolvakansies vir graad 6- tot 12-leerders en studente onder 25 beplan word. Nog ‘n nuwe projek is ons Vrywilligerklub waardeur ons ondersteuners wil werf om ons by te staan met ons onderskeie projekte.

Die ATM se planne om ‘n navorsingsentrum op die been te bring, is goed op dreef met die bekendstelling van 'n splinternuwe leeskamer in Mei. Ons huisves toenemend besoekende navorsers - gedurende die jaar is onder andere besoek ontvang van die Nederlander Marinus Pannevis (‘n afstammeling van Arnoldus Pannevis) en die Australiese doktersgraadkandidaat Stephen Smith, wat vir drie maande by ons navorsing gedoen het vir sy tesis oor taaltoerisme. Verskeie navorsingsprojekte is van stapel gestuur, waaronder ‘n nasionale opname oor taalmonumente in Suid-Afrika, en ‘n samewerkingsooreenkoms is met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie Biblioteke gesluit.

Ons uitstalling oor vroeë geskrewe Afrikaans wat einde verlede jaar geopen het, was ‘n belangrike toevoeging tot die ATM se permanente museumuitstalling. Ons span is tans agter die skerms hard aan die werk om ‘n nuwe uitstalling oor Afrikaanse musiek te ontwikkel.

Die ATM-personeel het op nasionale vlak werkswinkels, praatjies en referate gelewer en navorsingsartikels in internasionale tydskrifte gepubliseer. Twee van ons permanente gidse, Megan Ruiters (museumgids) en Verinque Hendriks (monumentgids), het amptelike toergidskwalifikasies verwerf, onderskeidelik as terreingids en as natuur- én terreingids. Me Ruiters was in April 2010 dertig jaar in diens van die ATM en is vereer met ’n meriete sertifikaat vir lang diens.

Vir meer inligting oor die werksaamhede van die ATM, kontak die Direkteur, Jack Louw, by tel. 021 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .

Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha/Amira Clayton by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien   of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441