Taalmuseum bied nou navorsingsdienste
MEDIAVRYSTELLING
Vrydag 1 April 2011
Geen embargo
Die Afrikaanse Taalmuseum se planne om ’n navorsingsentrum op die been te bring, is goed op dreef. Dié museum spog reeds met navorsingsdienste en stel in Mei ‘n splinternuwe leeskamer bekend waar besoekers op afspraak kan kom navorsing doen.
Annemarie van Zyl, die museumnavorser, is tans besig om al die dokumente in die museumbiblioteek en -argief in ’n nuwe katalogus op te neem wat uiteindelik aanlyn beskikbaar sal wees.
’n Samewerkingsooreenkoms is onlangs met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie Biblioteke (CPUT: Biblioteke) gesluit wat die uitruil van materiaal, ondersteuning en professionele kennis behels. Hierdeur het ’n versameling van sowat 230 waardevolle Africana-boeke reeds ’n nuwe tuiste by die Taalmuseum gevind.
’n Ander hoogtepunt is ‘n onlangse skenking van oorspronklike briefies en versies, geskryf deur CP Hoogenhout, een van die belangrikste leiers van die eerste Afrikaanse Taalbeweging.
Die Taalmuseum vorder goed met ’n nasionale opname oor taalmonumente in Suid-Afrika wat in Julie 2010 afgeskop het. Enigeen wat oor inligting beskik, kan vir Annemarie van Zyl kontak by tel. 021 8723441 of ʼn e-pos stuur na
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha/Amira Clayton by
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

