Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Taalmonument vier 35-jarige bestaan (27.07.10)

Taalmonument vier 35-jarige bestaan

MEDIAVRYSTELLING
Dinsdag 27 Julie 2010
Geen embargo

ʼn Fees van aktiwiteite word beplan ter viering van die 35-jarige bestaan van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in die Paarl. Dié instelling hoop om gedurende die feestydperk vanaf Augustus tot Oktober mense meer bewus te maak van die verskeidenheid van fasiliteite, dienste en aktiwiteite wat hulle bied.

“Ons beskou onsself as 35 jaar jónk,” sê Jack Louw, direkteur. “Ons personeel is ʼn jong, dinamiese span en ons volg ʼn strategie dat museums en monumente nie vervelige, stowwerige plekke moet wees nie, maar dat opvoedkunde en vermaak hand aan hand benut kan word om bewusmaking oor kulturele en omgewingsbewaring op ʼn kreatiewe manier te bevorder.”

Die feesprogram skop op 12 Augustus af met die vierde jaarlikse Mathews Phosa-lesing met prof Russel Botman, rektor van Stellenbosch Universiteit, as vanjaar se gasspreker. Op dieselfde dag vind ʼn spesiale Taaldag opvoedkundige program vir graad 8-leerders in die Toringkerksaal plaas waar Stellenbosch Universiteit se dramadepartement die verengelsingsbeleid en die gevolg wat dit op plaaslike inwoners gehad het, én vandag nog steeds het, sal uitbeeld.

Op Taaldag, 14 Augustus, kan besoekers terug reis in tyd na 1875 tydens ʼn opedag by die Taalmuseum in Pastorielaan. Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op dié dag presies 135 jaar gelede in hierdie destydse huis van Gideon Malherbe gestig. Kinders én volwassenes sal eerstehands ervaar hoe die lewe toentertyd was en sal kan poseer vir ’n foto in klere van toeka langs die drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant gedruk is. Plaaslike kunstenaars sal by die straatkafee op die museum se voorstoep liedjies en gedigte uitvoer. Hierdie reis terug in tyd word herhaal van 23 tot 26 September tydens die jaarlikse Paarl Cultivaria-fees.

ʼn Gesondheidspraatjie word op Sondag 29 Augustus ter viering van Vrouemaand in die Bethelkerksaal in Paarl-Oos aangebied ten bate van dié gemeente se sopkombuis. Die gasspreker is Herman Uys, skrywer van “God se apteek: jy is wat jy eet en jy is wat jy nie eet nie”.

September is Erfenismaand en eerste op die program is ʼn nuwe uitstalling oor vroeë geskrewe Afrikaans wat op 1 September open by die Taalmuseum. Dié uitstalling het vier temas, nl. die vroegste geskrifte, Afrikaans in Arabiese skrif, die GRA en Bybelvertaling in Afrikaans. Dit sluit in 'n transkripsie van Afrikaans soos gepraat deur slawe; en dokumente deur koloniste.

ʼn Spesiale opvoedkundige program met die tema “inheemse kennis” word op 7 September vir graad 4- tot 6-leerders in Amstelhof Primêr se skoolsaal aangebied. Sprekers wat Suid-Afrika se diverse kultuurgroepe verteenwoordig, sal hul kos, geloof en gebruike aan die leerders bekendstel.

Die laaste rondte van die Mongoose Downhill bergfietsreeks vind van 11 tot 12 September by die Taalmonument plaas.

Die Taalmuseum se jaarlikse Ommietafel met stories produksie, wat verlede jaar een van die gewildste Cultivaria-feesgeleenthede was, word vanjaar in samewerking met LitNet aangebied op Erfenisdag, 24 September. Die deelnemers is die hip-hop-digter en -musikant Jitsvinger, (van “Afrikaaps” faam), die skrywer Jaco Kirsten, die digter Melt Myburgh en Martelize Brink van RSG as seremoniemeester.

Ook deel van die Cultivaria-fees is die Taalmuseum se kreatiewe skryfsessies op 23 September. Dié informele werkswinkel deur meestersgraadstudent Anmar le Roux fokus op verbeeldingstimulering, karakterskepping aan die hand van klei en musiek, en kort gedigte soos die haiku en tanka.

Die gewilde somerseisoen volmaanpieknieks by die Taalmonument begin op 23 September, met die eerste sterrekykaand op 9 Oktober. Besoekers kan hul eie piekniekmandjies bring of een bestel by Volksmond Koffiewinkel.

ʼn Kursus in boekherstelwerk en papierkonservering vind van 26 tot 28 Oktober by die Taalmuseum plaas. Die aanbieder is Johann Maree, wat deur die Switserse Centro del Bel Libro en die Oostenrykse Nasionale Biblioteek opgelei is en vir 28 jaar werksaam was by die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad.

Stapentoesiaste kan solank begin oefen vir die Taalmonument se pretstap op 10 Oktober, met ʼn opsie van ʼn 4km en ʼn 9.5km roete. Volksmond Koffiewinkel by die Monument bied op dieselfde dag ʼn “Pretdag vir oud en jonk” aan met speletjies soos Afrikaanse Scrabble, buitelug-skaak en boules. Ander aktiwiteite sluit in die bekendstelling van ʼn nuwe inligtingsboekie oor die Taalmonument en 'n kunskompetisie waar hoërskoolleerders die Taalmonument moet uitbeeld volgens hulle eie interpretasie..

Vir meer inligting, besoek skakel tel. 021 872 3441 of loer na ons Dagboek.

Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.


 

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441