Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Paarl Erfenisroete poskaartreeks bied wonderlike afslagaanbiedinge (26.01.11)

Paarl Erfenisroete poskaartreeks bied wonderlike afslagaanbiedinge

Die Paarl Erfenisroete poskaartreeks, 'n inisiatief van die Ghoema-roete Vereniging, is op Dinsdag 25 Januarie 2011 bekend gestel by Cascade Manor in die Paarl. Die roete is ontwerp as 'n dag-uitstappie of naweek-wegbreek wat vyf interessante bestemmings in die Paarl insluit, waaronder Die Afrikaanse Taalmonument.

Poskaartversameling



’n Pragtige poskaartversameling wat elke bestemming op die roete uitbeeld, is beskikbaar by die deelnemende bestemmings, asook by ander toerismepunte in die omgewing. Die poskaartversameling kos R35 en sluit in vyf poskaarte, ’n roetekaart, GPS-koördinate en wonderlike afslagaanbiedinge om jou besoek aan hierdie bestemmings nie net aangenaam te maak nie, maar ook bekostigbaar.

Die roete en deelnemende bestemmings

Kom herontdek die Paarl, voorheen bekend as Wamakersvallei, ʼn naam wat so sinoniem was met wamakery as wat Mannheim was met Mercedes Benz. Begin jou toer in Suider-Paarl met ʼn besoek aan die De Poort Erfenissentrum (http://www.depoortvillage.org.za) waar die fassinerende geskiedenis van dié dorp se wamaker-industrie ontvou.

Die KWV (www.kwvwineemporium.co.za) het geen bekendstelling nodig nie – tensy jy nog nie gehoor het van hul sjokolade-en-brandwynproe, hul likeur-en-Lindt-sjokoladeproe of hul biltong-,neut-en-wynproe nie… Hou jou poskaart byderhand om te kwalifiseer vir 10% afslag indien jy 6 of meer bottels KWV wyn aanskaf!

Ons beveel sterk aan dat jy vooraf eers ’n draai maak by Die Afrikaanse Taalmonument (www.taalmonument.co.za) en jou maag vul met 'n heerlike piekniekmandjie van Volksmond Koffiewinkel (bestel ’n dag voor die tyd!). Wys jou Erfenisroete-poskaart en kry gratis toegang tot die monument en 'n gratis koppie koffie by die koffiewinkel – daar moet ʼn rede wees waarom meer as 50 000 besoekers dié monument jaarliks besoek. Pragtige uitsigte, wat moeilik geklop word deur buurdorpe soos Stellenbosch en Franschhoek; interessante gebeurtenisse soos sterrekykaande, volmaanpieknieks en musiekkonserte om maar net ʼn paar te noem; en outentieke kulturele erfenis maak gereelde uitstappies ʼn móét. Van wat ek gehoor het, bly die monument die Paarl se grootste geheim – slegs verborge vir Paarliete… wat hopelik een van die dae sal wakkerskrik en besef dat dit hul eie is, om te kan geniet sonder enige terughouding.

Teen dié tyd behoort die besoeker te besef dat Paarl nie 'n tref-en-trap-bestemming is nie, maar 'n welverdiende naweek-wegbreek om jou siel se batterye te herlaai. Cascade Manor (www.cascademanor.co.za) én Mountain Shadows Country Manor (www.mountainshadows.co.za) bied asemrowende natuurskoon aan die voet van die Drakenstein bergreeks, uitnemende plattelandse kos, luukse akkommodasie en die belangrikste van alles, ’n huis-weg-van-die-huis met ouderwetse gasvryheid. Cascade – modern en gesofistikeerd – én Mountain Shadows – tradisioneel Kaaps-Hollands – verwelkom ook dagbesoekers vir 'n onvergeetlike ervaring. Cascade bied aan poskaarthouers ʼn gratis olyfolieproe terwyl Mountain Shadows gratis tee/koffie en skons belowe. Met die insluiting van hierdie twee bestemmings as deel van die Roete, moes ek vrede maak met ʼn gevoel van jaloesie om hierdie verborge skatte vir myself te hou… maar nou ja, dit is die essensie van die Ghoema-roete vereniging – om reisgeheime met plaaslike toeriste te deel.

So min tyd, so baie te doen? Loer dan ten minste in by Marc se Mediterreense restaurant (www.marcsrestaurant.co.za) in die geskiedkundige Hoofstraat. Passievol oor die gebruik van plaaslike bestanddele (organies waar moontlik) is Marc vir kulinêre én viti-kulturele uitnemendheid bekend. En ja, Marc sal probeer om daar te wees om seker te maak jy kry die persoonlike aandag wat jy verdien. Marc bied aan poskaarthouers ʼn gratis glas rooi- of witwyn en ʼn varsgebakte foccacia.

Op die foto van links na regs is verteenwoordigers van die deelnemende bestemmings: Brigitte Sikora (KWV); Ann Heyns (Ghoema-roete), Marc Friederich (Marc’s Restaurant); Maika Goetze (Cascade Manor); Misty de Beer (Mountain Shadows Country Manor); Elnette van der Bank (Volksmond Koffiewinkel) en Isabeau Botha (Die Afrikaanse Taalmonument).

Vir meer inligting of navrae: kontak Ann Heyns van Ghoema-roete by tel. 083 367 1778

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441